On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

‘Vermiste’ mans van Klerksdorp Maandag in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:00 Mon, 18 Aug 2025

‘Vermiste’ mans van Klerksdorp Maandag in hof  | News Article
Donovan van der Walt (25) en Christiaan van Blerk (34). Foto: Noordwes-polisie

Die twee mans was vir byna drie weke vermis en word van diefstal aangekla.

Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) het Vrydag (15/8) in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Hulle is Donderdag danksy wenke van die publiek in Kempton Park aan die Oos-Rand opgespoor. Albei is ongedeerd gevind.

Van der Walt en Van Blerk is as vermis aangemeld nadat hulle laas op Maandag 14 Julie gesien is. Hulle is werknemers van Afrikaner Holding in Meiringspark, Klerksdorp.

Volgens Myburgh het hulle daardie dag in ’n wit Toyota Hilux Raider-bakkie van die werk af vertrek om onderdele in Klerksdorp se nywerheidsgebied te gaan haal. Hulle het nooit teruggekeer nie. Hul werkgewer se bakkie en kontant is nog nie gekry nie. 

Die voertuig waarmee die twee mans gery het. Foto: Noordwes-polisie

Op 28 Julie, terwyl die twee mans nog vermis was, is die liggame van twee ongeïdentifiseerde mans naby Pietermaritzburg ontdek. Dit het gelei tot die vermoede dat dit hulle kon wees.

Myburgh het egter later bevestig dat die gerugte onwaar is. Die polisie herinner die publiek steeds daaraan dat vermiste persone onmiddellik by enige polisiekantoor aangemeld kan word. Verslae moet  ’n onlangse foto van die vermiste persoon insluit, asook wat se klere hulle aan gehad het en waar hulle laas gesien is.

“Sedert 2020 het die polisie 17 968 vermiste persone met hul naasbestaandes herenig,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder. Dit sluit in volwassenes en kinders wat landwyd as vermis aangemeld is.

“Die polisie bly daartoe verbind om alle mense in Suid-Afrika te dien en te beskerm, en herinner die publiek daaraan dat daar geen wagtydperk is om ’n persoon as vermis aan te meld nie.”

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.