On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Oudpolisieman en vrou se kind dalk rede vir misdaad, sê staat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:06 Mon, 18 Aug 2025

Oudpolisieman en vrou se kind dalk rede vir misdaad, sê staat | News Article
Daniel en Anna Fourie buite die hofsaal. Foto: Charné van der Merwe

’n Vrystaatse oudpolisieman en sy vrou, wat teregstaan op aanklagte van intimidasie en crimen injuria, is deur die aanklaer opdrag gegee om Maandag (18/8) ’n foto van hul oudste kind hof toe te bring.

Volgens adv. Allen Simpson, vir die staat, kan hierdie kind die onderliggende rede agter die beweerde misdade wees. Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, se saak, wat al etlike jare duur, gaan Maandag in die Welkomse streekhof voort.

Die verrigtinge is voorheen vertraag weens Fourie se herhaalde verandering in regsverteenwoordiging.

Die saak spruit glo uit ’n persoonlike vete met die bekende sakeman-broers in die stad Manny en Jose Jardim. Die paartjie word ook daarvan beskuldig dat hulle agter die graffiti is wat jare lank brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het waarin die Jardims geteiken word.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf

Hulle word ook aangekla van poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huise glo met ’n spykerbom aangeval is en skote daarop afgevuur is. ’n Kind is glo rakelings gemis.

Die beskuldigdes se prokureur het Vrydag (14/8) versoek dat Anna ontslaan word omdat daar geen bewyse teen haar is nie. Die staat het die versoek teengestaan. Die hof het die aansoek afgewys en beslis dat Anna steeds saam met haar man tereg moet staan. 

Die staat probeer glo aanvoer dat die paartjie se beweerde optrede beïnvloed is deur hul oudste kind, wat na bewering verbind word met een van die mans wat aanklagte teen hulle instel het.

Simpson het Fourie Vrydag onder kruisverhoor gevra of die rede waarom hy herhaaldelik, ook in graffiti, na een van die klaers as “porra scum” en ’n “verkragter” verwys het, verbind word met vermoedens oor die egpaar se oudste seun. Simpson het Fourie ook gevra of daar ’n verband kan wees tussen al die dreigende boodskappe en die graffiti en ’n voorval van meer as 30 jaar gelede.


Die Jardims is in die graffiti geteiken. Foto verskaf

Gevra of hy die klaer ken het Fourie gesê hy het hom jare gelede, in 2013, ontmoet toe hy ’n vark by hom gekoop het, maar sedertdien het hy geen kontak met hom gehad nie.

Fourie het getuig dat hy en Anna mekaar in 1998 in Senegal ontmoet het toe sy nog op skool was en hy as ’n polisieman in Bethlehem gewerk het. Volgens Fourie het hy, nadat hy van die misdade beskuldig is, sy vrou gevra of sy een van die klaers ken. Anna het ontken dat sy die man ooit ontmoet het.

Ten tyde van vroeër verrigtinge het Manny onder eed getuig dat hy haar wel ken.

Simpson het Fourie ook in 2021 gevra om ’n DNS-toets te ondergaan om te bevestig of hul oudste kind sy biologiese seun is. Hy het destyds geweier. Hy het egter Vrydag aan die hof gesê dat hy nou geen beswaar het teen ’n DNS-toets nie.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.