Click on the warning image to view this post
Central SA
Noord-Kapenaars in hof ná koei gesteel, geslag is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:06 Mon, 18 Aug 2025
Twee Noord-Kapenaars sal na verwagting Maandag (18/8) in die hof verskyn nadat hulle na bewering ’n koei wat as gesteel aangemeld is, geslag het.
Die beskuldigdes (42 en 49) is Vrydag (15/8) deur die Marydale-polisie in hegtenis geneem nadat hulle in kennis gestel is dat ’n koei naby Koegas geslag is, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder. “Die polisie het onmiddellik gereageer en die karkas op die geïdentifiseerde plek aangetref.”
Sy sê ná verdere ondersoek het beamptes die verdagtes omstreeks 19:10 by ’n woning aangekeer.
Ehlers sê veediefstal is ’n prioriteit vir die polisie en sy moedig vee-eienaars aan om voorsorgmaatreëls te tref om hul diere te beskerm.
Afname in veediefstal
Voorvalle van veediefstal of verwante misdaad kan aangemeld word by die SAPD se Misdaadstop-nommer 08600 10111 of via die MySAPS-toepassing.
Onlangse misdaadstatistieke dui daarop dat veediefstal steeds ’n belangrike bron van kommer in Suid-Afrika is, hoewel daar tekens van vordering is.
Nasionaal was daar in die vierde kwartaal van die 2024/25-boekjaar (Januarie–Maart 2025) ’n afname van 8,9% in aangemelde veediefstalgevalle vergeleke met dieselfde tydperk die vorige jaar. In die Noord-Kaap het veediefstal met 22.4% gedaal.
OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs