On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-amptenaar aangekeer wat glo sake doen met staat

───   KEKELETSO MOSEBETSI 09:35 Tue, 19 Aug 2025

Noordwes-amptenaar aangekeer wat glo sake doen met staat | News Article
Foto ter illustrasie

’n Senior staatsamptenaar van Noordwes is in hegtenis geneem wat na bewering onwettig sake met die staat gedoen het. En ’n sakevrou is in die sop weens verwarring met ’n betaling deur die premierskantoor.

Kitso King Molawa (49), ’n senior amptenaar in die Noordwes-gesondheidsdepartement, het Maandag (18/8) in Mmabatho se landdroshof verskyn. Hy word aangekla van die oortreding van artikel 8 van die Wet op die Bestuur van Openbare Administrasie wat staatsamptenare verbied om met die staat sake te doen.

Molawa is deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdade in Mahikeng in hegtenis geneem. Die aanklagte spruit uit ’n ondersoek na bewerings dat hy, terwyl hy as hoofdirekteur in die provinsiale gesondheidsdepartement gewerk het, sake gedoen het met die staat deur sy maatskappy KKM Consulting Engineering, sê Tinyiko Mathebula, provinsiale Valke-woordvoerder.

In 2018 het die maatskappy glo ’n kontrak van die Mahikeng-munisipaliteit gekry om ’n pad in Tsetse te verbeter en meer as R2 miljoen ontvang. Die volgende jaar het die maatskappy glo weer ’n kontrak vir padverbeterings in Lothlakane gekry, dié keer van oor die R3 miljoen.

Ná die Valke-ondersoek is Molawa aangekla en in hegtenis geneem. Hy is op R3 000-borgtog vrygelaat en die saak is tot 3 September uitgestel.

In ’n afsonderlike saak het die sakevrou Tsakani Rhulani Hlongwane (37), direkteur van Goitsemedi Trading and Enterprise, Maandag ook in Mmabatho se landdroshof op ’n aanklag van diefstal voorgekom.

In Julie verlede jaar het die Noordwes-premier se kantoor glo per ongeluk meer as R100 000 in die rekening van haar onderneming inbetaal plek van in die rekening van Goitsemedi Trading and Projects, sê Mathebula. Albei entiteite was geregistreerde diensverskaffers van die premierskantoor.

Die ondersoek het blykbaar aan die lig gebring Hlongwane het die geld gehou sonder om enige dienste te lewer. Ná ’n ondersoek deur die Valke se handelsmisdaadeenheid is sy in hegtenis geneem en aangekla.

Hlongwane is op waarskuwing vrygelaat en haar saak is tot 16 Oktober uitgestel.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.