Central SA
Boendoereg-saak op Reitz uitgestel; vierde verdagte vas─── ZENANDE MPAME 10:54 Tue, 19 Aug 2025

Die polisie op Reitz verwag om binnekort nog verdagtes aan te keer nadat ’n woedende skare ’n man aangerand het omdat hulle hom van huisbraak verdink het.
’n Vierde verdagte verskyn Woensdag (20/8) in die Reitz-landdroshof. Hy is Maandag (19/8) danksy ’n wenk van die publiek in hegtenis geneem.
Drie verdagtes het reeds Maandag op aanklag van moord voorgekom. Hul saak is tot komende Maandag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel. Intussen bly hulle in polisieaanhouding.
Die polisie is verlede Maandag na die plaaslike township Petsana ontbied, waar inwoners ’n beseerde man omring het. Die slagoffer is na bewering met ’n sambok en knopkierie aangerand nadat hy van diefstal beskuldig is.
“Die vierde verdagte sal hopelik (Woensdag) verskyn, aangesien die hof dan in sitting is,” sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Hy kan dalk volgende week by sy medebeskuldigdes aansluit. Die polisie ondersoek ’n moordsaak.”
Nadat die polisie op die toneel aangekom het, is die slagoffer na ’n hospitaal op Bethlehem geneem, waar hy Donderdag (14/8) aan sy beserings beswyk het.
Die Vrystaatse polisie waarsku teen boendoereg. Foto: SAPD
Dit is nie die eerste voorval van boendoereg op Reitz nie. In Mei het twee broers gesterf toe Petsana-inwoners eie reg gebruik het ná vermoedens dat iemand ’n huis aan die brand gesteek het waarin ’n 18 maande oue seun en ’n sewe maande oue baba gesterf het.
Die gemeenskap het na bewering die ouer broer van brandstigting verdink en hom in groot getalle begin soek. By sy huis het hulle sy jonger broer, Mpiyakhe Miya, aangetref en hom vir die ouer broer aangesien. Hulle het hom aangeval en doodgeslaan. Toe hulle agterkom hulle het die verkeerde man toegetakel, het hulle verder gesoek en Siphamandla eindelik opgespoor en hom lewend verbrand.
“Een van die redes waarom mense aan boendoereg deelneem, is die gevoel van anonimiteit in ’n skare,” sê die kriminoloog prof. Nirmala Gopal. “Mense glo dus die kans dat hulle gevang sal word, is gering.
“Buiten dat boendoereg onwettig is in elke opsig, is dit uiters wreed en onderwerp dit mense aan erge liggaamlike mishandeling, marteling en selfs die dood. Dit moet in alle gevalle veroordeel word.”