On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Rioolkrisis bedreig Noordwes-gemeenskappe se gesondheid – adjunkminister op besoek

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:09 Tue, 19 Aug 2025

Rioolkrisis bedreig Noordwes-gemeenskappe se gesondheid – adjunkminister op besoek | News Article
Sello Seitlholo, adjunkminister van water en sanitasie, op sy toesigbesoek. Foto: Facebook

Die gesondheid van gemeenskappe in Mahikeng en omstreke word ernstig bedreig deurdat rou riool steeds deur die strate vloei en in riviere en strome beland.

Sello Seitlholo, adjunkminister van water en sanitasie, het dié onstellende stand van sake uitgelig op ’n toesigbesoek aan die Moloporivier en ’n plaaslike watersuiweringsaanleg in Noordwes.

“Die gesondheid van gemeenskappe is in gedrang aangesien inwoners moet leef met riool wat deur die strate en deur die riviere en strome vloei,” het Seitlholo gesê, sigbaar gefrustreerd oor wat hy gesien het.

Die adjunkminister het nie doekies omgedraai om die plaaslike regering aanspreeklik te hou nie. Hy het veral die jare lange swak bestuur van infrastruktuur en die versuim om aan wetgewing te voldoen, uitgelig. Hy het gesê die ekonomiese potensiaal van die streek se waterbronne word ook in gevaar gestel weens jare se versuimde instandhouding van noodsaaklike infrastruktuur.

“Alles staan en val by munisipaliteite. As Suid-Afrika moet werk, moet munisipaliteite werk,” het Seitlholo beklemtoon. Hy het verwys na Clover se verskuiwing uit Lichtenburg as ’n voorbeeld van hoe diensleweringsmislukkings beleggers kan afskrik of verdryf.


“Toe Clover die Ditsobotla-munisipaliteit verlaat, het hy nie gesê hy kan nie voortgaan (met sy bedrywighede) nie. Hy het die gebrek aan dienslewering – van elektrisiteit tot water en paaie – as die rede vir sy vertrek aangevoer.”

Seitlholo het gewaarsku oor die hoë koste om besoedelde water te suiwer, ’n las wat munisipaliteite en verbruikers uiteindelik moet dra.

“Dit is ’n bose kringloop wat Suid-Afrikaners nie kan bekostig nie. Dit is ’n bose kringloop wat aandag moet geniet en dringend die hoof gebied moet word. Toe die president water as die topprioriteit in hierdie land uitgelig het, het Suid-Afrikaners oor die algemeen gedink hy prioriseer die einde van die voorsieningsketting – die oopdraai van die kraan en die uitvloei van water.”


Seitlholo was veral ontevrede oor die invloei van onbehandelde riool in die Moloporivier en het gesê die departement van water en sanitasie gaan verdere strafregtelike klagte teen die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit aanhangig maak weens waterbesoedeling.

Oor sy evaluering van meer as 30 munisipaliteite landwyd het Seitlholo gesê daar is ’n herhalende patroon van passiwiteit en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. “Verordeninge word nie toegepas nie,” het hy gesê en gewys op die gebrek aan gevolge vir besoedelaars, insluitend maatskappye, inwoners en selfs ook munisipaliteite.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.