On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Trekker skep bewustheid oor dimensie, alzheimersiekte van Potchefstroom tot Bredasdorp

───   SUSAN MARÉ 12:17 Wed, 20 Aug 2025

Trekker skep bewustheid oor dimensie, alzheimersiekte van Potchefstroom tot Bredasdorp | News Article
Die Landini-trekker wat die toergroep gaan lei simboliseer die stadige en uitmergelende tempo van siektes soos demensie en Alzheimer’s. Foto verskaf

’n Trekkertoer as bewusmakingsprojek oor dimensie en alzheimersiekte begin op Sondag 30 Augustus in Potchefstroom en eindig 1 900 km later op 11 September op Bredasdorp by Nampo Kaap 2025.

Together Rallying Across Communities To Overcome Remembrance-loss (Tractor) se mikpunt is om talle dorpe in Noordwes en Wes-Kaap te besoek om mense in te lig en van raad te bedien wat deur hierdie siektes geraak word. Dis die geesteskind van die projekbestuurder, Esmé Marks, nadat sy en haar familie haar pa se dimensie beleef het. 

Sy het hul belewenis met Bibi Bouwman van die departement volhoubaarheid en gemeenskapsimpak aan die Noordwes-Universiteit gedeel. Dis toe as ’n projek by die fakulteit geesteswetenskappe geregistreer.

Esmé Marks, Tractor se projek- en trekkerbestuurde. Foto verskaf

Die projek word van stapel gestuur in samewerking met ander departemente van die NWU asook die Vereniging vir Demensie en Alzheimersiekte in Suid-Afrika en met die ondersteuning van korporatiewe en ander belanghebbendes. 

Meer as 187 000 Suid-Afrikaners bo 60 jaar en hul geliefdes word deur dimensie geraak. 

Die NWU Tractor-span. Foto verskaf

Na verwagting sal die getal demensielyers teen 2030 tot sowat 250 000 toeneem. Volgens syfers van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is demensie in 2021 wêreldwyd by sowat 57 miljoen mense gediagnoseer. 

Dié syfer neem jaarliks met ’n tiende toe. In 2019 het demensie wêreldwyd jaarliks sowat VS$1,3 triljoen gekos, waarvan die helfte aan versorgers bestee is.

Die Landini-trekker wat die toergroep gaan lei. Foto verskaf

Die bewusmakingstoer van NWU met ’n trekker van Potchefstroom na Bredasdorp is simbolies van die stadige tempo van die siekte, maar ook die kragtige teenwoordigheid van hulp in baie Suid-Afrikaanse gemeenskappe, sê Marks.

Dit stel die langsame en wrede vordering van demensie voor, asook die krag van mense wat met dié siekte van geliefdes saamleef. Die toerspan gaan op talle dorpe inligting oor demensie deel en tehuise vir bejaardes besoek. 

Marks sê sy het persoonlike ervaring toe hulle as kinders genoodsaak is om hul pa met demensie in die Samuel Broadbent-huis in Potchefstroom te laat woon waar hy deur versorgers ondersteun kon word.

Meer as 187 000 Suid-Afrikaners  word in 2025 deur siektes demensie en Alzheimer’s geraak en die verwagting is dat daar teen 2030 sowat 250 000 hieraan gaan ly. Foto verskaf

“Ná ons pa se dood het ek een aand besef ons is met hom deur ’n verskriklike ding. Ek en my susters het gepraat en besef ons was glad nie voorbereid op sy dimensie nie.

“Ons was hoegenaamd nie ingelig nie. Ons het nie die tekens raakgesien nie al het ons onder mekaar gepraat oor snaakse dinge wat hy praat, doen of sien. 

“Toe sy siekte erger geword het was dit emosioneel uitmergelend om hom te besoek. Hy was nooit een dag dieselfde nie – soms was hy verskriklik omgekrap en aggressief, soms praat hy nie met jou nie, soms is hy praterig - ’n mens het nooit geweet hoe hy gaan wees nie.”

Meer as 187 000 Suid-Afrikaners  word in 2025 deur siektes demensie en Alzheimer’s geraak. Foto verskaf

Al het hy nie aldag onthou of sy by was of nie, het haar gewete haar gepla wanneer sy hom nie kon besoek nie, vertel Marks. 

“Dit het my so skuldig laat voel. Agterna wonder jy of jy genoeg gesê het, dat jy is lief vir hom en of jy nie iets beter kon doen nie.”

Dit het haar laat besef sy moet mense inlig oor die tekens van demensie en hoe om ’n lyer te hanteer. “Dit verg uiterste geduld en jy moet kalm bly om met so ’n persoon te werk, anders ontstel jy jou geliefde en krap dit hulle om.”

Tractor se hoofdoel is om mense wat oningelig is te help om die siekte van ’n geliefde kundig te verstaan en hanteer. Foto: NWU

Dis waaroor Tractor gaan: om mense wat oningelig is te help om die siekte van ’n geliefde kundig te verstaan en hanteer. Baie navorsing gedoen nog gedoen oor demensie en alzheimersiekte. 

Nes kanker sambreel is vir verskeie soorte kankers, is demensie ook ’n sambreel vir ’n toestand waar die brein agteruitgaan, vertel Marks. Alzheimersiekte, wat die bekendste toestand is, Levi Body en nog ander val onder demensie. 

“Dit is belangrik dat mense weet watter soort demensie hul geliefdes het. Een van die grootste uitdagings is om lyers van hierdie siektes reg te ondersteun.”

Nes kanker sambreel is vir verskeie soorte kankers, is demensie ook ’n sambreel vir ’n toestand waar die brein agteruitgaan. Foto: NWU

Hulle kan inligting en opleiding kry by netwerke. “Mense moet weet hulle is nie alleen nie – dit is belangrik om hulle te ondersteun. 

“Daar gaan baie inligting in dorpe gedeel word en ook pamflette as hulpbronne.”

Hoewel sommige dorpe nie op die hoofroete is nie, kan hulle steeds na  die buurdorpe gaan waar die toergroep aandoen. Om nadere besonderhede kan Marks gebel word by 082 635 5639 of prof. Sanette Brits, die spanleier, by 084 533 4555.

Die hoofdorpe op die roete waar die toergroep oornag, is Bloemhof, Kimberley, Hopetown, Britstown, Carnarvon, Williston, Calvinia, Vanrhynsdorp, Citrusdal, Tulbagh, Robertson en Bredasdorp.

Hulle ry ook deur Wolmaransstad, Christiana, Warrenton, Strydenburg, Nieuwoudtville, Clanwilliam, Piketberg, Moorreesburg, Riebeek-Kasteel, Hermon, Worcester en Swellendam.

Besoek Tractor se webblad vir volledige inligting.

OFM Nuus/Susan Maré

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.