Central SA
Noord-Kaap se Groen Skerpioene verloor hul angel – VF Plus─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:52 Wed, 20 Aug 2025

Die Groen Skerpioene in die Noord-Kaap kan nie ernstige omgewingsprobleme soos plantsmokkelary bestry nie weens gebrekkige hulpbronne.
Dié eenheid kort voldoende personeel om sy werk te koördineer en bewyshantering te verbeter, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP, ná ’n toesigbesoek aan die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en grondhervorming. Dit het talle sistemiese tekortkominge in omgewingsbeskerming aan die lig gebring,
Die besoek was veral toegespits op die onwettige smokkel van skaars plante uit Namakwaland wat ál meer kommer wek weens die betrokkenheid van internasionale misdaadsindikate en die nadelige uitwerking daarvan op die natuur.
Die VF Plus-afvaardiging het bestaan uit die wetgewerlid Theo Joubert, Kobus van den Berg, LP verantwoordelik vir omgewingsake in die Nasionale Raad van Provinsies, Boshoff, wat dié verantwoordelikheid in die Nasionale Vergadering beklee, en Wilhelm Reichert, die VF Plus se provinsiale bestuurder, wat gereeld omgewingsklagtes behartig.
Van die bedreigde plantspesies. Foto: VF Plus
Volgens Boshoff het senior amptenare in die omgewingsdepartement, onder wie Thabang Sebono, hoof van korporatiewe dienste, en O.T. Gaoraelwe, nakoming-en-wetstoepassingshoof, op ’n vergadering bevestig talle sleutelposte is vakant weens ernstige onderfinansiering. “Dit is kommerwekkend dat die hele provinsie tans deur slegs een omgewingsondersoeker bedien word, wat effektiewe afdwinging feitlik onmoontlik maak.”
Die smokkel van seldsame plantspesies, veral vetplante, bly toeneem, sê Boshoff. Dié plante is gesog op die Asiese mark, waar ’n enkele besending tot R1 miljoen kan haal. Die polisie lê wel af en toe beslag op sluikgoedere, maar die hantering van die plante daarna is “uiters problematies”.
Weens ’n gebrek aan geskikte kwekerygeriewe kan sulke plante dikwels nie behoorlik bewaar of herplant word nie, sê hy. “Voorts bepaal wetlike vereistes biologiese materiaal moet as bewysstukke behou word totdat hofverrigtinge afgehandel is – ’n proses wat dikwels jare duur.”
Op die VF Plus-besoek is verrottende plantmonsters gevind wat in plastieksakke geberg is terwyl gewag word op hofprosesse. Dit het die dringende behoefte aan beter protokolle vir bewysbestuur onderstreep.
Dié bedreigde dwergvetplantjies (‘Conophytum'), bekend as knopies, lê en verrot in sakke. Foto: VF Plus
Boshoff beklemtoon die probleem word vererger deur swak koördinering tussen die nasionale en provinsiale departemente wat verantwoordelik is vir omgewingsbewaring, waterbestuur en besoedelingsbeheer. Die publiek ervaar ook onnodige struikelblokke weens onduidelike aanmeldingstrukture en moeilik toeganklike klagtekanale.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die reaksie van dr. Dion George, minister van bosbou, visserye en die omgewing, wat voorheen berigte oor planthouers waarop beslag gelê is, as ’n misverstand afgemaak het. “Tog het amptenare op die grond aangedui dat hulle geen sodanige navraag ontvang of daarop gereageer het nie. Die teenstrydigheid laat vrae ontstaan oor kommunikasieprobleme en deursigtigheid binne die department,” sê Boshoff.
Die VF Plus beskou hierdie kwessies as “dringend en onaanvaarbaar”. Hulle eis dringende stappe om die Groen Skerpioene se hand te sterk, koördinering tussen agentskappe te verbeter en die behoorlike bestuur van omgewingsbewyse te verseker.
Die beskerming van Suid-Afrika se unieke biodiversiteit – veral in ekologies sensitiewe gebiede soos Namakwaland – hang af van ’n goed toegeruste en funksionele raamwerk om die omgewing te bewaar.
OFM Nuus het navrae aan Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en grondhervorming gestuur.
OFM Nuus cvs