On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Saak oor staatskaping by Alexkor uitgestel

───   08:49 Fri, 22 Aug 2025

Saak oor staatskaping by Alexkor uitgestel | News Article
’n Belangrike inligtingsbord by Alexkor. Photo: Ashraf Hendricks/Groudup

‘n Saak wat spruit uit ’n ondersoek na hoe staatskaping die staatsbeheerde diamantmaatskappy, Alexkor ’n brandpunt van Gupta-invloed laat word het, is in die Palm Ridge-handelsmisdaadhof vir verdere ondersoek uitgestel.

Die saak teen Mervyn Carstens, uitvoerende hoof van die Alexkor RMC Pooling and Sharing Joint Venture (PSJV), en sewe mede-beskuldigdes is uitgestel tot 29 Oktober vir verdere ondersoek. Carstens is verlede maand op borgtog van R100 000 vrygelaat. 

Die PSJV is ’n gesamentlike onderneming tussen Alexkor en die Richtersveld-gemeenskap.

Drie van die ander  beskuldigdes – Daniel Nathan, Martha Rapetsoa en Kuben Moodley – het Donderdag (21/8) gesê hulle sal aansoek doen om die verslapping van hul borgtogvoorwaardes. Hierdie aansoeke sal op 9 September aangehoor word. 


Mervyn Carstens. Photo: State Diamond Trader Annual Report

Nathan is uit op borgtog van R100 000, terwyl Rapetsoa en Moodley borgtog van R30 000 elk toegestaan is.

Carstens, Nathan, Moodley, Rapetsoa, Roslyn Crossingham, Raygen Phillips en Prasadh word deur verskeie aanklagte van bedrog en oortredings van die Diamantwet in die gesig gestaar. Nathan se maatskappy, Alexander Bay Diamond Company, voorheen bekend as Scarlet Sky Investments (SSI), word ook betrek.

Eksklusiewe reg aan SSI

Die aanklagte spruit uit twee diamantbemarkingstenders, wat in 2015 en 2016 aan SSI toegeken is. Hierdie tenders het aan SSI die eksklusiewe reg gegee om al die diamante te bemark en te verkoop wat deur die PSJV geproduseer word. 

Na bewering het SSI al die ongeslypte diamante van die PSJV bekom en namens die onderneming verkoop. Verskeie individue en geaffilieerde entiteite het na bewering oor ’n tydperk van meer as vyf jaar ongeslypte diamante via hierdie tenders bekom.

News24 het voorheen berig in latere ondersoeke is bevind SSI – ’n nuweling sonder enige ervaring in die diamantbedryf – het nie oor ’n geldige diamanthandelslisensie beskik het nie.

Sakevennoot van Guptas

Moodley, ’n noue sakevennoot van die Gupta-familie, was die meerderheidaandeelhouer van SSI, terwyl Nathan ’n minderheidsbelang gehad het. Albei ontken dat hulle enige wett oortree het. Moodley word ook verbind met beweerde bedrog en korrupsie by Transnet, wat hy ontken.

Die Zondo-ondersoekkommissie na staatskaping het in 2021 bevind geen behoorlike agtergrondondersoeke is gedoen voordat SSI aangestel is om die edelstene te bemark en te verkoop nie. 

Die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) het in reaksie op die Zondo-verslag met die ondersoek begin wat nou op die hofsaak uitgeloop het, sê Henry Mamothame, Idac-woordvoerder.

‘n Eeu van mynbou

Alexkor is in 1992 gestig en het as ’n staatsbeheerde onderneming begin. Sy kernaktiwiteit is die prospektering en mynbou van diamante langs die noordkus van die Noord-Kaap tot by Namibië. In 2003 het die maatskappy ’n groot terugslag beleef toe hy ’n grondsaak teen die Richtersveld-gemeenskap verloor, wat gelei het tot groot verliese tussen 2005 en 2009. 

Hy het teen 2012 ’n skuldlas van R275 miljoen gehad en in 2011 ’n staatsreddingsboei van R350 miljoen ontvang. In 2018 het Alexkor 41 941 karaat diamante gelewer wat R409 miljoen se inkomste en R34 miljoen wins opgelewer het.

Alexanderbaai is ’n afgeleë woestyndorp suid van die Namibiese grens in die noordwestelike uithoek van die Noord-Kaap. Diamantmynbou is sy enigste bestaansrede. Foto: Facebook/Alexanderbaai, Koop en Verkoop

Die dorp Alexanderbaai is genoem na sir James Alexander, wat daarvan gedroom het om ryk te word deur die uitvoer van Namakwaland se koper. In 1836 was hy op ’n ontdekkingsreis namens die Royal Geographical Society die eerste mens wat die gebied gekarteer het. 

Ná kortstondige voorspoed veral Alexanderbaai van die 1870’s af en word feitlik ’n spookdorp, totdat diamante in 1925 langs die noordweskus ontdek word.

OFM Nuus cvs/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.