Central SA
Colesberg-handelaar het 7 dae om te bewys miljoene se sigarette is wettig─── 10:18 Fri, 22 Aug 2025

Die eienaars van gekonfiskeerde goedere word sewe dae gegun om bewys te lewer dat hulle wettig in besit was van onwettige sigarette van miljoene rand nadat die Noord-Kaapse polisie op ’n vragmotor en sy vrag beslag gelê het.
’n Multidissiplinêre oorgrensoperasie, waarby polisie-eenhede van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap en die Vrystaat betrokke was, het die handel in en verspreiding van onwettige sigarette in die distrik Colesberg Woensdag (20/8) suksesvol ontwrig, sê sers. Timothy Sam, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Colesbergse polisiebeamptes, onder wie beamptes van Kuyasa en misdaadintelligensie asook doeaneamptenare van die Suid-Afrikaans Inkomstediens, het ’n wenk ontvang oor ’n algemene handelaar in Kerkstraat wat vermoedelik onwettige sigarette verkoop.”
’n Lasbrief is uitgereik, waarna beamptes op onwettige rookgoed ter waarde van ongeveer R370 000 afgekom het, sê Sam. “ ’n Agterdogwekkende vragmotor, wat buite die winkel geparkeer was, is ook deursoek en nóg ’n groot besending onwettige sigarette ter waarde van R2,5 miljoen is gevind.”
Van die kartondose vol sigarette waarop beslag gelê is. Foto: SAPD
Die polisie het beslag gelê op die vrag sowel as die vragmotor, waarna die beamptes na ’n vulstasie in Stasieweg is. Daar het hulle beslag gelê op nog onwettige sigarette met ’n geskatte waarde van R590 000, sê Sam. “Die totale geraamde waarde van die sigarette en die vragmotor is R7,5 miljoen.”
Die handelaar het nou sewe dae om te bewys dat hy wettig in besig daarvan was.
Lt.kol. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiehoof, loof die gesamentlike optrede en beklemtoon die polisie en sy vennote is steeds daartoe verbind om die onwettige handel in sluikgoedere uit te roei. Dit hou ’n ernstige bedreiging in vir die land se ekonomie.
OFM Nuus cvs