Central SA
Verdagte wil glo drawwer verkrag, in Clarens-berge aangekeer─── 10:43 Fri, 22 Aug 2025

’n Verdagte, wat aangekla word van poging tot verkragting, kom na verwagting Vrydag (22/8) in Bethlehem se landdroshof voor nadat polisiebeamptes ’n berg uitgeklim het om hom in hegtenis te neem.
Vier polisiebeamptes van Clarens het Donderdag (21/8), kort nadat hulle hul nagskof voltooi het, inligting ontvang oor ’n 37-jarige, wat na bewering probeer het om ’n drawwer te verkrag.
Serss. Lebohang Nhlapo en Thabo Makume en konsts. Lehlohonolo Rampai en Serame Lesenyeho het hul soektog omstreeks 10:00 begin, sê Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Hul vasbeslotenheid het vrugte afgewerp toe hulle die ongedokumenteerde buitelandse burger, wat in die bergagtige terrein bo Clarens weggekruip het, suksesvol opgespoor en in hegtenis geneem het.”
Drawwer veg terug
Die verdagte – ’n voormalige skaapwagter van die omgewing – word daarvan beskuldig dat hy ’n vrou (46) Sondag (17/8) probeer verkrag het. “Die slagoffer het omstreeks 08:30 gedraf toe die verdagte haar glo aangeval, op die grond gedwing en probeer het om haar uit te trek.”
Mophiring sê die slagoffer het teruggeveg, die verdagte se gesig gekrap en in sy oog gesteek voordat hy ontsnap het. ’n Motoris het die voorval by die Clarens-polisiekantoor aangemeld. Die verdagte het daarna die berge ingevlug.
Bethlehem se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskermings en seksuele misdrywe gaan voort met sy ondersoek.
OFM Nuus cvs