On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Departement wil rybewys-agterstand teen Desember uitwis

───   11:33 Fri, 22 Aug 2025

Departement wil rybewys-agterstand teen Desember uitwis | News Article
Die departement van vervoer sê hy hoop om teen Desember die agterstand van meer as 500 000 rybewyskaarte uit te wis. Foto: OFM Nuus

Die departement van vervoer sê hy hoop om teen Desember die agterstand van meer as 500 000 rybewyskaarte uit te wis.

Die departement het sedert Mei, toe die enigste drukkermasjien herstel is, reeds meer as 834 000 kaarte gedruk, sê Collen Msibi, woordvoerder van die departement.

Motoriste wat steeds wag, kan hul hernuwingskwitansies gebruik solank die aansoek gedoen is voor die huidige kaart verval.

Hy sê die groot agterstand bly hardnekkig omdat sowat 10 500 nuwe aansoeke daagliks ontvang word. “Van einde Mei tot 11 Augustus het ons 834 000 kaarte gedruk. Ons sit egter nog met ’n agterstand van 539 000. Terwyl ons die agterstand probeer inhaal, kom nuwe aansoeke daagliks in, en dit hou die druk hoog,” sê Msibi.

Collen Msibi. Foto: X

Die groot probleem bly die 26 jaar oue drukker wat al minstens 160 keer onklaar geraak het. Net vanjaar het 38 werksdae verlore gegaan weens herstelwerk. Die departement sê hy het vanjaar reeds R12 miljoen aan herstelwerk bestee, en R4,4 miljoen aan oortyd om produksie aan die gang te hou.

Die Driving Licence Card Account (DLCA), die amptelike liggaam wat verantwoordelik is vir die vervaardiging en bestuur van rybewyse, hou die masjien deurlopend aan die werk – 24 uur per dag, sewe dae per week – wat produksie van die gewone 7 440 kaarte per dag opstoot tot 22 320. Tog sê Msibi die aanvraag is steeds hoër as die produksie.

“Ons vang gemiddeld net 2 187 kaarte per dag op wat die agterstand betref. Dit beteken ons sal minstens agt maande neem om die 539 000 weg te werk. En dit is op voorwaarde die masjien breek nie weer nie.”

Agt tot nege weke se wagtyd

Motoriste wag tans agt tot nege weke vir ’n nuwe kaart, vergeleke met vier tot ses weke in Junie. Die gewone wagtydperk is net twee weke. Die DLCA waarsku as die masjien vir ’n maand buite werking sou wees, sal die agterstand met nog 300 000 kaarte toeneem.

Die langtermynoplossing sou nuwe, veiliger kaarte en drie nuwe drukkers wees. Dié plan is egter vasgevang in ’n hofsaak ná die ouditeur-generaal se bevindings van onreëlmatighede in die tenderproses.

Barbara Creecy, minister van vervoer, sê haar departement het die hooggeregshof genader vir ’n verklarende bevel voordat nuwe stappe gedoen kan word. Die doel is om regsadvies te kry om te voorkom dat verdere onreëlmatige besteding plaasvind.

Rugsteundrukker behoort te help

Totdat die hof uitsluitsel gee, is die nuwe drukkers op ys. Dit beteken Suid-Afrika is steeds afhanklik van die ou, onbetroubare drukker.

Intussen werk die departement saam met die Staatsdrukkery aan ’n rugsteundrukker wat na verwagting in Oktober in werking tree. Msibi sê dit behoort te help om toekomstige agterstande te verlig, maar die onmiddellike druk bly hoog.

Die departement het intussen betalings vir tydelike rybewyskaarte en boetes vir vergete rybewyse opgeskort om motoriste tegemoet te kom.

Die departement sê hy bly vasbeslote om die agterstand teen Desember uit te wis, maar erken dit sal van talle faktore afhang, onder meer of die ou masjien nog betroubaar aanhou werk.

Bronne: SABC News, Business Tech, Top Auto

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.