Central SA
Noord-Kaap: DA bekommerd oor mediese sorg vir militêre veterane─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:33 Sat, 23 Aug 2025

’n Dringend beroep is op die minister van verdediging en militêre veterane gedoen om die probleme van militêre veterane op te los.
“Die DA sal daarop aandring dat ondoeltreffendheid binne die departement van militêre veterane dringend deur minister Angie Motshekga opgelos word. Dit is nodig om die situasie van die ongeveer 5 000 militêre veterane in die Noord-Kaap te verbeter," sê Ofentse Mokae, DA-LP van die gekose komitee oor veiligheid en justisie.
Hy sê militêre veterane se toegang tot voordele en magtiging vir mediese sorg word ernstig benadeel. Hul probleme het aan die lig gekom ná gesprekke wat met militêre veterane in die Barkly-Wes-omgewing gevoer is en vergaderings wat met die provinsiale kantoor gehou is.
“Daar is nie genoeg personeel by die provinsiale kantoor nie en daar is ’n duidelike gebrek aan koördinering en doeltreffende stelsels tussen die provinsie en die nasionale departement.”
‘Kanse op oorlewing sal verhoog’
Een van die veterane het destyds sy knie gebreek en sukkel om die regte behandeling te kry weens administratiewe probleme. ’n Ander een is op ’n waglys by ’n staatshospitaal geplaas en kon nog nie opvolg behandeling kry vir sy prostaatkanker nie. “Indien sy mediese voordele goedgekeur word, kan hy gouer mediese behandeling by ’n private hospitaal kry wat sy kanse op oorlewing sal verhoog.”
Hy sê die departement dobbel met mense se lewe en gesondheid. “Ek sal my kommer met minister Angie Motshekga binne die gekose komitee oor veiligheid en justisie in die Nasionale Raad van Provinsies bespreek.”
DA eis dringende ingrypings ten opsigte van:
- ’n Gebrek aan kapasiteit in die provinsiale kantoor wat dit onmoontlik maak om militêre veterane in die provinsie te bedien;
- Swak ondersteuning van die nasionale kantoor om probleme en kwessies met betrekking tot voordele op te los; en
- 'n Gebrek aan koördinering met departemente en die provinsiale regering om voordele en dienste doeltreffend te maak.
Mokae sê militêre veterane het hul lewe gewaag om ’n demokratiese Suid-Afrika te bewerkstellig en om vrede in ons land te bewaar. “Ons sal die minister aanspreeklik hou vir die departement se versuim om militêre veterane met die nodige waardigheid en respek te behandel.”
OFM Nuus dg