On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
Show Background
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Leerders geskors ná hul onderwyser in Klerksdorp met goed gooi

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:08 Sat, 23 Aug 2025

Leerders geskors ná hul onderwyser in Klerksdorp met goed gooi | News Article
Die voorval by die HTS Klerksdorp. Foto skermskoot

Die onderwyser wat tydens die matrieks se 40 dae-viering met water en papiere gegooi is, het aan OFM Nuus gesê hy word nie toegelaat om met die media te praat nie.

Die Noordwes-onderwysdepartement het die gedrag van matrieks by die Hoër Tegniese Skool (HTS) in Klerksdorp veroordeel nadat dié viering Dinsdag (19/8) in chaos ontaard het. Op ’n video wat wyd op sosiale media versprei word kan gesien word hoe 'n groep leerders die skool se kleedkamers binnegegaan en met klapmusse uitkom.

Toe ’n onderwyser nader kom om hulle te vra om terug te keer klas toe het die situasie handuit geruk. Hulle het water oor hom gegooi, hom met papiere gegooi en hom gespot terwyl ander in die agtergrond gehoor kon word hoe hulle lag. 

“Ander personeel het vinnig ingegryp, die area beveilig en normale onderrig het hervat nadat die orde herstel is. Die leerders is kort daarna geïdentifiseer en hul ouers is van die voorval in kennis gestel," sê Viola Motsumi, LUR vir onderwys in Noordwes.

‘Leerders vir vyf skooldae geskors’

Ná 'n dringende vergadering het die beheerliggaam besluit om die leerders vir vyf skooldae te skors. Motsumi sê hierdie skorsing is ’n tussentydse maatreël hangende ’n formele tugverhoor in ooreenstemming met die skool se gedragskode.

“Hierdie gedrag is barbaars, onaanvaarbaar en sal nie geduld word nie. Leerders wat ons onderwysers aanrand, hoort nie in ons skole nie. 

“Ek gee die skoolbeheerliggaam opdrag om drastiese stappe teen hierdie leerders te doen. Die stappe wat gedoen word moet ’n sterk boodskap aan ander stuur om nooit sulke verskriklike gedrag te probeer nie.”

‘Leerders moet berading kry’

Motsumi het ook gelas die onderwyser en die betrokke leerders moet berading kry. Sy het ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die beheerliggaam, onderwysers, ouers en die gemeenskap vir hul ondersteuning.

Mphata Molokwane, woordvoerder van die departement, sê die departement keer nie die 40-dae-vieringe goed wat tradisioneel 40 dae voor die matriekeksamen gehou word nie. Dit is voorvalle soos hierdie wat orde en veiligheid in skole ondermyn.

Verdere stappe sal gedoen word sodra die tugverhore afgehandel is. 

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.