Central SA
Noordwes: Man wys polisie waar vermiste vrou se liggaam is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Mon, 25 Aug 2025

'n Man van Noordwes sal na verwagting Maandag (25/8) in die hof verskyn. Hy word aangekla vir sy vriendin se moord.
Kedisaletse Audrey Ditire (52) se kêrel (50) sal in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn nadat hy die polisie ná byna drie maande gaan wys het waar haar liggaam is, sê kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder.
“Die teenbende-eenheid het die man in hegtenis geneem nadat haar ontbinde liggaam op ’n plaas in Amalia gevind is. Hy is aangekla van die oortreding van art. 49 van die Immigrasiewet (2002) en is in aanhouding.”
Ditire is laas op Donderdagmiddag 29 Mei deur haar kêrel gesien naby die R506-pad tussen Amalia en Christiana, terwyl sy op pad was na ’n winkel. "Haar kêrel wat op die plaas gewerk het, het haar eers op 7 Junie as vermis aangemeld.”
Kedisaletse Audrey Ditire (52). Foto verskaf
Genl.maj.Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale kommissaris, sê: “Die inhegtenisneming van die verdagte en die ontdekking van haar liggaam word verwelkom.
“Dit is egter nog ’n pynlike herinnering aan die brutaliteit en barbaarse geweld waaraan weerlose vroue onderwerp word deur mans wat veronderstel is om hul beskermers te wees.
“Daar word gehoop dat hierdie inhegtenisneming 'n mate van vertroosting en afsluiting vir die familie sal bring wat lank nie geweet het wat met hul geliefde gebeur het nie.”
OFM Nuus dg