On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Verkragter verdien nie vryheid – Noordwes-polisiehoof

───   11:51 Mon, 25 Aug 2025

Verkragter verdien nie vryheid – Noordwes-polisiehoof | News Article
Foto ter illustrasie: Wesley Tingey/Unsplash

Noordwes se waarnemende polisiekommissaris hoop die “gevaarlike, gewetenlose” verkragter van ’n 13-jarige word nooit weer in die gemeenskap vrygelaat nie.

Die landdroshof op Brits het Sello Solomon Mpete (41) Vrydag (22/8) lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan huisbraak met die opset om te verkrag en die verkragting van die slagoffer in Segwaelane naby Mooinooi in die vroeë oggendure van Saterdag 13 Augustus 2016.

“Die hof het gehoor dat die ma (35) van twee haar huis omstreeks 04:50 gesluit het toe sy werk toe vertrek en haar twee dogters (7 en 13) binne gelaat het,” sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. “ ’n Uur later het sy ’n please call me gekry van haar oudste dogter en haar gebel.

“Die kind het gesê iemand het ingebreek en haar verkrag. Die ma het huis toe gejaag en onmiddellik ’n klag by die polisie gaan indien.”

Adv. Setlhabi Mosuwe, die staatsaanklaer. Foto: X

Beamptes van Brits se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings se onvermoeide werk het gelei tot Mpete se inhegtenisneming, vyf dae later, vertel Myburgh. “Hy is op borgtog vrygelaat, maar oortuigende forensiese bewyse het uiteindelik tot sy skuldigbevinding en vonnis gelei.”

Op die aanklag van verkragting is hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis en tot nog agt jaar op die aanklag van huisbraak met die opset om te verkrag. “Mpete is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit ingevolge artikel 103 van die Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000).”

Sers. Andile Molate, die ondersoekbeampte. Foto: SAPD

Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiehoof, loof sers. Andile Molate, die ondersoekbeampte, en adv. Setlhabi Mosuwe, die staatsaanklaer, vir hul samewerking wat tot die vonnis gelei het. Dié saak is een van vele ernstige seksuele aanrandings waarin vroue en jong meisies deur seksuele oortreders in gemeenskappe aangeval word, sê hy.

Intussen vra die Vrystaatse polisie die publiek se hulp om ’n verdagte op te spoor ná die verkragting van ’n tiener van Parys.

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Tumahole, Parys, soek ’n man wat na bewering ’n meisie (15) verkrag het, sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder. Blykbaar was die meisie op 23 Mei omstreeks 07:30 by die skool toe ’n man skielik opgedaag en haar na ’n veld agter die skoolgebou gesleep het, waar sy verkrag is.

Volgens Rani was die meisie alleen in ’n klaskamer aan die agterkant van die skool toe sy gegryp is deur die man, wat sy nie ken nie.

Die gesigsamestelling. Foto: SAPD

Die GKS-eenheid vra enigiemand wat die man aan die gesigsamestelling kan uitken moet na vore kom.

Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, Noliyiswa Masondo, by 082 049 5208 te bel, of Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook deur die MySAPSApp ingedien word.

Onlangse misdaadstatistieke skets ’n gemengde prentjie van aangemelde verkragtingsake in Sentraal-Suid-Afrika die afgelope twee jaar.

In die Vrystaat het aangemelde verkragtingsake effens met 1,1% gestyg, van 716 sake tussen Januarie en Maart 2024 tot 724 sake in dieselfde tydperk in 2025, ’n jaar-op-jaar-toename van agt sake.

Noordwes het ’n afname van 4,8% beleef: 832 in die laaste kwartaal van die 2023/24-boekjaar vergeleke met 792 ’n jaar later, oftewel 40 sake minder.

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.