On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Meyerton-gesin vra hulp nadat huis afbrand

───   ZENANDE MPAME 06:00 Tue, 26 Aug 2025

Meyerton-gesin vra hulp nadat huis afbrand | News Article
Meyerton-gesin vra hulp nadat huis afbrand. Foto verskaf

’n Meyerton-gesin het dringend boumateriaal nodig om hul broer se huis te herbou nadat hulle alles in ’n brand verloor het op ’n kleinhoewe in Homelands, tussen Meyerton en Vereeniging.

Die twee broers, Carel en Wiekus Buitendag, kon net hul twee hondjies, Buksie en Baster, hul motorsleutels en die klere aan hul lyf red voordat die brand alles verswelg het. Die brand is Sondag (24/8) deur bure op ’n nabygeleë kleinhoewe begin om nuwe gras te laat groei, blykbaar sonder behoorlike voorsorgmaatreëls. 

Die wind het toe die vlamme na die Buitendag-gesin se huis aangeblaas. Na bewering het die brandweer vragmotors gestuur om die brand te blus, maar weens die sterk wind en die huis se houtstruktuur het alles afgebrand.

“Die twee broers was aan tafel vir middagete in Wiekus se huis saam met sy vrou toe ’n oproep van die bure kom wat sê ’n vuur is buite beheer en op pad na hulle toe,” sê Carel se suster Sonja van Rhyn. 

“My broers het begin om ’n voorbrandafdeling te maak en die gras om die eiendomme nat te maak, maar die vuur was te vinnig en die wind te sterk.”

Alles in die huis het afbrand. Foto verskaf

Baie van die items wat in die brand verlore gegaan het, het aan hul oorlede ouers behoort, sê sy. “Dis vir ons tragies omdat daar dinge was wat baie spesiaal was, soos ’n horlosie, bril en spesiale skoene van ons pa.”

Carel het sowat 35 jaar lank in die huis op die plot gewoon, terwyl Wiekus se tuinhuisie, waar hy saam met sy vrou gebly en sy besigheid as ’n passer en draaier bedryf het, aan die stoep vas was.


Niemand is in die brand beseer nie. Foto verskaf

Daar was baie hande om te help om die brand te bestry, maar die wind het die vlamme vinnig oor verskeie plase tot by die pad gejaag. Gelukkig is niemand beseer nie; die hondjies het net ligte rookinaseming opgedoen, sê Van Rhyn.

Die familie vra finansiële hulp om boumateriaal te koop om Carel se huis te herbou. Hulle doen ook ’n beroep op mense om enige materiaal wat hulle kan of bereid is om te skenk, beskikbaar te stel.

Op die oomblik is klere nie ’n probleem nie, aangesien Carel tydelik tussen sy twee susters – een op Meyerton en een op Parys – gaan woon.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.