On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiner hoor binnekort haar lot ná veghond-aanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:00 Tue, 02 Sep 2025

Bloemfonteiner hoor binnekort haar lot ná veghond-aanval | News Article
Olebogeng Mosime (8) is op 12 November 2022 in sy erf in Vista Park doodgebyt. Foto: Facebook

’n Bloemfonteiner word volgende Dinsdag (2/9) weens strafbare manslag gevonnis nadat haar Amerikaanse veghond uit haar erf ontsnap en ’n kind noodlottig aangeval het.

Keabetswe Moroane (43) is op 22 Julie in die Bloemfonteinse streekhof skuldig bevind nadat die hond Olebogeng Mosime op 12 November 2022 in sy erf in Vistapark aangeval en doodgebyt het, het Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

Olebogeng, ’n gr. 3-leerling aan die Primêre Skool Roseview in Bloemfontein, het verskeie bytwonde aan sy nek en bors opgedoen.

Versuim om dier in te perk

Een van Moroane se drie honde het ’n geskiedenis van aggressie gehad. Talle inwoners het voorheen hul kommer uitgespreek en gesê die hond laat hulle onveilig voel. Dit was nog lank voor die noodlottige voorval plaasgevind het.

Ondanks herhaalde klagtes en pogings deur Moroane en haar bure om die hond te beveilig – insluitend die aanbring van heinings en houtpale – het sy versuim om doeltreffende strukture in stand te hou om te verseker dat die dier ingeperk bly, het Senokoatsane gesê.

Olebogeng Mosime is op Vrydag 18 November 2022 in Mangaung ter ruste gelê. Foto: Facebook

“Die hof het beslis Moroane het nie redelike stappe gedoen om voorsienbare skade te voorkom nie, wat neerkom op geregtelike nalatigheid. Gegewe die hond se gedrag en die talle klagtes het sy ’n duidelike plig gehad om die gemeenskap teen die gevaar te beskerm. Haar versuim om beslissend op te tree, het gelei tot die tragiese verlies van ’n jong lewe.”

Die uitspraak is deur die NVG verwelkom en die werk van die ondersoek- en vervolgingspanne is aangeprys.

Senokoatsane het ook sy innige meegevoel met die familie van Olebogeng betuig.

Regstelsel moet ferm reageer

“Hierdie saak is ’n ontnugterende herinnering daaraan dat diegene wat gevaarlike diere aanhou, sowel ’n wetlike as morele verantwoordelikheid het om ander te beskerm,” voeg Senokoatsane by.

“Wanneer nalatigheid tot beserings of die dood lei, moet die regstelsel ferm reageer om openbare veiligheid en aanspreeklikheid te verseker.”

Die hond wat by die aanval betrokke was, is van kant gemaak. Die DBV het die ander twee honde van Moroane se eiendom verwyder.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.