On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ondersoek ingestel ná vloedskade by Vrystaat-gesondheid se hoofkantoor

───   ZENANDE MPAME 13:53 Wed, 27 Aug 2025

Ondersoek ingestel ná vloedskade by Vrystaat-gesondheid se hoofkantoor | News Article
Ondersoek ingestel ná vloedskade by Vrystaat-gesondheid se hoofkantoor. Foto verskaf

Werknemers van die Vrystaatse departement van gesondheid sal eers Maandag (1/9) na hul werkplek in Bophelo House kan terugkeer ná ernstige oorstromings wat die ontruiming van die gebou genoodsaak het.

Die departement het bevestig die situasie kry aandag. Werkers probeer om die water te verwyder, die oorsaak van die oorstroming word ondersoek en daar moet toesien word dat die gebou veilig is vir herbesetting voordat personeelle na hul werksplek kan terugkeer.

Die provinsiale hoofkantoor is Dinsdag oorstroom, wat veilige toegang tot die gebou onmoontlik gemaak het. Alle amptenare wat daar gestasioneer is, is in kennis gestel en aangesê om van die huis af te werk in belang van hul veiligheid.

Bophelo House, ’n sleutel- administratiewe sentrum van die departement, huisves spanne wat alles hanteer van siektebeheer tot hospitaalondersteuning. 

“Die proses om die vloedskade aan te spreek, is nie ’n vinnige oplossing nie, aangesien beide die verwydering van water en veiligheidsondersoeke tyd en deeglike uitvoering verg,” lui ’n verklaring van die departement.

Die departement het ’n deurlopende proses van stapel gestuur om die oorsake van die oorstroming te bepaal en die veiligheid van die gebou vir besetting te evalueer. Werknemers sal vir die res van die week van die huis af bly werk, met die doel om eers terug te keer sodra bevestig is dat die gebou weer veilig is vir besetting.

Vloedskade by die Vrystaat-gesondheid se hoofkantoor. Foto verskaf

Foto’s van die gebou toon gedeeltes van vloere wat onder water is. Dit is nie die eerste keer dat Bophelo House oorstroom nie. 

In 2023 het die A-afdeling van die gebou oorstroom nadat ’n pypverbinding gebars het weens hoë waterdruk, volgens Bloemfontein Courant.

Beurtkrag het vermoedelik tot die probleem bygedra. ’n Staalpyp, wat die munisipale watertoevoer met ’n reservoir verbind, het waarskynlik losgeraak en het meegegee onder die waterdruk toe elektrisiteit herstel is.

Werknemers sal vir die res van die week van die huis af bly werk. Foto verskaf

“Maatreëls is ingestel om kontinuïteit van bedrywighede te verseker en ontwrigting van dienste te beperk terwyl herstelwerk aan die gang is,” lui die verklaring.

Alle betrokke personeel is in kennis gestel, en op las van die departementshoof, Ernest Mohlahlo, is personeel versoek om hul werk van die huis af voort te sit ter wille van hul veiligheid.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.