Central SA
Gesin vier kankervegtertjie se vordering op pad na genesing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:08 Wed, 27 Aug 2025

’n Bietjie langer as ’n jaar nadat kanker by ’n vyfjarige van Noordwes gediagnoseer is, word sy vordering gevier. Sy rugmurg is nou skoon en slegs twee klein gewasse is oor in sy brein.
Ná maande van behandeling en uitdagings kon Liam Jacobs op 11 Augustus die klok in die Netcare Unitas hospitaal lui wat verkondig dat ’n pasiënt kankervry is nadat vasgestel is dat hy so te sê skoon is. Sy ouers, WD en Suné van Sannieshof, beskryf dit as “niks minder as ’n wonderwerk” nie.
Kanker is op 18 Julie verlede jaar by die blondekoppie gediagnoseer nadat ’n CT-skandering in die Mediclinic tekens daarvan in sy brein en rugmurg getoon het.
Die Jacobs-gesin. Foto: Suné Jacobs
“Ons geloof, 2 Konings 20:5, en natuurlik Liam self, het ons sterk gehou,” vertel sy ma. “Selfs op die moeilikste dae het sy glimlag ons moed gegee. Hy het nooit fisies siek geword van die chemo nie, en dit het ons aan die gang gehou.”
Die Bybelvers gaan oor die boodskap wat koning Hiskia ontvang het: “So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan.”
Die reis was egter nie sonder uitdagings nie en as ouers was die moeilikste deel om hul kind in pyn te sien verkeer, welwetende dat hulle dit nie kan beter maak en dat dit nie gaan verdwyn nie, sê Suné. “Dit verpletter ’n ouer se hart. Liam het agt plaatjie-oortappings, tien bloedoortappings, operasies en maande van chemoterapie verduur.
LEES OOK: Ouers stukkend ná seun se kankernuus
“Hy weet hy was baie siek, maar hy sê trots die Here Jesus het hom beter gemaak. Hy glo werklik hy is ’n kryger – en hy is,” sê Suné.
Nog ’n uitdaging wat die gesin in die gesig gestaar het, was om nie by mekaar te kon wees nie, Sune was by Liam, terwyl WD by hul dogter, Wilné, was.
Liam neem steeds daagliks chemo-tablette. Foto: Suné Jacobs
Gemeenskapsondersteuning het ook ’n reuseverskil gemaak. Bure, familie en vriende het die Jacobs-gesin omring met gebede, maaltye, finansiële hulp en voortdurende aanmoediging. “Daardie saamwees het ons nooit alleen laat voel nie,” sê Suné.
Hierdie stryd het Liam verander en hom wyser gemaak as sy jare. “Hy waardeer die klein dingetjies meer en het ongelooflike empatie met ander. Hy straal ’n soort dankbaarheid uit wat jy nie kan aanleer nie,” verduidelik sy ma met trots.
Liam het nog twee klein gewasse in sy brein. Foto: Suné Jacobs
Terwyl Liam steeds daagliks chemo-tablette by die huis neem en elke drie maande vir skanderings gaan, is sy ouers dankbaar vir elke dag gevul met speel, lag en drukkies. “Ons sien nou die lewe met nuwe oë. Elke dag is ’n geskenk, en ons weet wat werklik saak maak,” sê Suné.
Haar boodskap aan ander ouers wat deur ’n soortgelyke reis in die gesig gestaar word, is om nooit moed op te gee nie. “Vat dit een dag op ’n slag. Vertrou die proses, glo en hou jou kind se hand styf vas. Daar is lig, selfs al voel die pad baie donker.”
Liam in die hospitaal. Foto: Suné Jacobs
Vir die gesin beteken genesing veel meer as medisyne. “Genesing is vir my nie net fisiek nie, maar ook emosioneel en geestelik. Dit beteken hoop, nuwe begin en die genade van nog ’n kans met ons kind,” sê WD.
“En vir Liam gaan dit eenvoudig daaroor om te kan leef, lag en die wêreld daaraan te herinner dat selfs die kleinste kryger die grootste gevegte kan wen,” sê die pa.