Central SA
Nuwe beeldmateriaal 7 maande ná ongeluk 3 kinders eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:23 Thu, 28 Aug 2025

’n Bloemfonteinse pa, wat sy twee kinders sewe maande gelede in ’n motorongeluk verloor het, is gefrustreerd nadat nuwe beeldmateriaal opgeduik het – maar niemand steeds in hegtenis geneem is nie.
Martin Smit, pa van Ayden (8) en Ryan (6) wat op 23 Januarie saam met hul niggie Leané van Papendorp (8) oorlede is, sê hy kan nie meer die pyn hanteer nie. Die saak bly onopgelos en niemand word aanspreeklik gehou nie.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan (middel), verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Die drie kinders is dood op die kruising van die N8 en Krugerlaan, naby Aljo’s Superspar, toe ’n bestuurder na bewering ’n rooi verkeerslig verontagsaam het. Die bestuurder van die Toyota Hilux het na bewering ’n sleepwa vol swaar metaal gesleep.
Tennique Joubert is ná 19 dae in die hospitaal ontlsaan. Foto: Cornelius Berry
Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Chevrolet Spark, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal gehaas. Sy is egter dieselfde dag ontslaan.
Nog ’n kind, Tennique Joubert (6), was ná die ongeluk etlike dae in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal. As gevolg van die erns van die impak moes dokters haar milt verwyder. Ná 19 dae se behandeling is sy ontslaan.
Al die kinders was op pad na die Laerskool Dr. C.F. Visser.
Die saakdossier is op 1 Julie by die NVG ingedien, waar die bewyse hersien sou word om te besluit of vervolging sou volg.
Paramedici was gou op die toneel op die hoek van die N8 en Krugerlaan. Foto: Facebook/Ntando Mkhuzangwe
Die dossier is sedertdien terugbesorg, maar die aanklaer wag steeds op die J88- mediese vorm van Tennique. Intussen het nuwe beeldmateriaal na vore gekom na aanleiding van die aanvanklike bewyse.
“My bloeddruk is deur die dak van woede. Ek verstaan nie hoe dit al sewe maande aanhou nie,” sê Smit. “Die saak gaan heen en weer. Hulle soek steeds heeltyd na goed, en nou is daar nuwe beeldmateriaal.”
Hy sê dit voel asof iemand doelbewus die hofverrigtinge vertraag. “Dit voel asof daar omkopery betrokke is. Ek kan nie meer slaap nie. Ek verdrink in mediese en apteekrekeninge net om gesond te bly. My mediese fonds is uitgeput – van sielkundiges tot psigiaters. Ek het alles probeer.”
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe
Smit sê hy sukkel om te funksioneer, veral omdat albei sy kinders in ’n kits van hom af weggeneem is.
“Miskien as ek ook ’n groot besigheid in Bloemfontein besit het, sou dinge vinniger beweeg het en geregtigheid geskied het. Maar ek is net ’n gewone ou.”
Die bestuurder van die bakkie se pa het bevestig sy seun is in die buiteland, maar hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.