Central SA
Planne vir diamantmyn buite Kimberley kry wind van voor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:43 Thu, 28 Aug 2025

Planne vir ’n diamantmyn by Kimberley kry die wind van voor, blyk uit die openbaredeelnameproses wat aan die gang is.
Minstens een belangegroep belowe om te verseker geen kortpaaie word geneem in die hantering van dié omstrede projek nie. Sterk teenkanting teen die mynplan het Donderdag (28/8) opgeklink uit verskeie oorde oor die beplande bedrywighede op die plaas Rooifontein, wat grens aan die stad.
Die VF Plus het hom daartoe verbind om die ontwikkeling noukeurig te monitor, sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier en hoofwoordvoerder oor minerale en petroleumbronne.
Teenkanting is uitgespreek deur ’n diverse groep, insluitend boere, jagondernemings, informele mynwerkers en natuurkenners.
VF Plus-lede by die openbaredeelname-geleentheid. Foto: VF Plus
Volgens Boshoff wentel die gemeenskapslede se kommer om die beskikbaarheid van water, die rehabilitering van uitgewerkte myne, veiligheid en die natuurlewe.
“Boere uit die omgewing het daarop gewys dat vorige mynbedrywighede in die direkte omgewing juis vantevore gedwing is om te staak omdat waterbronne in die omgewing daaronder gely het.’’
Gemeenskapslede was die hoenders is omdat hulle gemeen het alle vrae is nie na behore beantwoord nie. “Daar was geen ondersteunende deelname nie.”
Hy sê die betrokke plaas behoort aan die Ekapa-mynmaatskappy, maar die aansoek word gebring deur ’n onafhanklike onderneming, Affordable Outcomes, wat op Christiana in Noordwes gevestig is.
Aanwesiges op die vergadering sal meer gerus wees as ’n plaaslike operateur betrokke is.
Die mynbou-projek kry nou die wind van voor. Foto: VF Plus
Boshoff sê die onderneming voorsien dat die projek 27 werksgeleenthede sal skep. Verskeie beswaardes vergelyk egter moontlike verliese in vee- en wildboerdery hiermee.
“Daar is kommer dat die departement van minerale en petroleumbronne ook nie sal toesien dat alle beloftes rakende rehabilitasie nagekom word nie.”
Mynbedrog saak dan weer in hof
Intussen verskyn twee Noord-Kaapse vroue, Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49), wat van mynregtebedrog beskuldig word, weer binnekort in die hof. Hulle het op 8 Augustus in die Douglas-landdroshof verskyn waar hul saak tot 9 September uitgestel en na die hof vir ernstige handelsmisdaad oorgeplaas is.
Roslyn Crossingham. Foto: SAPD
Die twee het na bewering ongeldige mynregte via hul maatskappy, Rowen Tree 60, verkoop, wat veroorsaak het dat ’n sakeman R1,368 miljoen verloor het.
Crossingham word daarvan beskuldig dat sy die maatskappy herverkoop het terwyl sy ’n onttrekkingsbrief weggesteek het wat getoon het dat die regte ongeldig was. Meer inhegtenisnemings word verwag.
OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs