Central SA
Smithfield-polisie vra hulp ná plaasaanval─── 15:01 Mon, 01 Sep 2025

Smithfield se polisie vra mense moet help met inligting om drie plaasaanvallers aan te keer.
Die drie onbekende, gewapende mans het Saterdag (30/9) tussen 20:30 en 23:40 toegang tot die plaas in die distrik verkry deur ’n heining te knip naby geslote hekke, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die verdagte het toe na die woonplek van ’n plaaswerker (53) gegaan, wat aan die slaap was.
“Hulle het by sy huis ingebreek en aangedring op die sleutels van ’n voertuig, wat op die werf geparkeer was,” vertel Earle. Nadat hulle die sleutels bekom het, het twee van die verdagtes die motorhuis binnegegaan en weggery met die wit Toyota Hilux-bakkie met registrasienommer DSB 071 FS. Die verdagtes het ook huishoudelike items tydens die inbraak gesteel.
Vir skok behandel
“Die slagoffer het nie sigbare beserings opgedoen nie, maar is na ’n mediese instelling geneem vir skokbehandeling.”
Alle belanghebbendes is in kennis gesteel en beamptes het die toneel gefynkam. Die verdagtes verkeer nog op vrye voet. Die polisie se ondersoek duur voort.
Earle vra enigeen met inligting moet dringende skakel met kol. Ben Bolsiek van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade by 082 466 8530 of Stop Misdaad by 08600 10111. Die MySAPS-app kan gebruik word om wenke anoniem te deel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Die bejaarde egpaar het terug plaas toe gegaan nadat hulle die erediens in die NG kerk op Smithfield bygewoon het. Foto: Danie Theron
’n Maand gelede is twee verdagtes aangekeer ná ’n rooftog op ’n plaas in dieselfde distrik. Die polisie, privaat sekerheidsmaatskappye en omliggende boere het flink gereageer nadat ’n bejaarde egpaar vroeg Sondagmiddag 3 Augustus op hul plaas beroof is, het Earle destyds gesê.
Die bejaardes (78 en 81) het omstreeks 13:30 van die NG op die dorp na hul plaas teruggekeer. “Die vrou het die huis binnegegaan en haar man buite gelos,” het Earle gesê. “Op pad na die kombuisdeur het twee onbekende verdagtes haar oorweldig.
LEES OOK: Vrystaatse polisie soek gewapende mans ná rooftog op Warden-plaas
“Hulle het haar aangerand, haar met messe gedreig en haar gedwing na waar haar man nog op pad na die huis toe was. Die verdagtes het albei slagoffers in die huis ingedwing en hulle vasgebind.”
Die verdagtes het die huis geplunder en selfone, kontant en juweliersware geroof. Die man is gedwing om geld na hulle toe oor te betaal. Daarna het hulle die man in sy eie voertuig gedwing en met hom weggery. Hulle het hom kort daarna in die toegangspad na die plaas gelos en in sy voertuig gevlug.
Die slagoffers het plaaslike boere geaktiveer en die polisie ontbied, wat flink gereageer het. Kort daarna is twee mans (29 en 36) op die pad na Bethulie aangekeer. Kontant en die gesteelde voertuig is teruggevind.