Central SA
Misdaad buite beheer in Noord-Kaap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:31 Tue, 02 Sep 2025

Die broer van ’n Noord-Kaapse DA-lid sal Saterdag (6/9) ter ruste gelê word nadat hy oor die naweek vermoor.
Basimane Mosikae is Sondag (31/8) in Galeshewe, Kimberley, noodlottig gesteek. Hy was die broer van DA-LP Ofentse Mokae.
“Misdaad in die Noord-Kaap is besig om buite beheer te raak en laat inwoners in vrees leef namate gewelddadige voorvalle aanhou eskaleer,” sê Reinette Liebenberg, DA-woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling. Die voorval het die DA se oproep op Provinsiale Polisiekommissaris Lt. Genl. Koliswa Otola versterk om meer te doen om gemeenskappe veiliger te maak.
Verdagte in hegtenis geneem
Liebenberg sê Mokae, wat dien as voorsitter van die gekose komitee oor openbare petisies en uitvoerende ondernemings in die nasionale raad van provinsies, het meegevoel ontvang van DA se provinsiale leier, Harold McGluwa, wat die tragedie beskryf het as ’n pynlike herinnering dat geweldsmisdaad niemand spaar nie.
Die polisie het aan OFM Nuus bevestig dat ’n verdagte in verband met die steekery in hegtenis geneem is. Volgens Liebenberg sal die DA die saak noukeurig te monitor om te verseker dat geregtigheid sy gang gaan.
“Hoewel niks Mokae se broer kan terugbring nie, sal ons die polisie steeds aanspreeklik hou vir die beskerming van burgers en om te verseker dat gemeenskappe regoor die Noord-Kaap veilig is.”
Basimane Mosikae (links), sy suter Kelebogile Mokae en DA-LP Ofentse Mokae. Foto verskaf
Ofentse beskryf hom as ’n sagte siel – die soort persoon wat nie ’n vlieg sou seermaak nie.
“Basimane was ’n seun van die stowwerige strate van Nommer Vyf, Beirut – ’n man van beginsel en 'n ware stem van die mense. Sy teenwoordigheid het ons huise, ons byeenkomste en ons gedeelde stryd gevul.
“Hy sal met liefde en blywende respek onthou word,” lui ’n huldeblyk op die Beirut Number Five Chronicles Facebook-blad.
OFM Nuus mvh