On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

‘Bid vir hom’ – Bloemfontein-ma ná 4-jarige se kankerdiagnose

───   ZENANDE MPAME 14:09 Tue, 02 Sep 2025

‘Bid vir hom’ – Bloemfontein-ma ná 4-jarige se kankerdiagnose | News Article
Kaden de Jongh (4) se ma vra dat mense vir haar seuntjie moet bid nadat hy met breinstamglioom gediagnoseer is. Foto verskaf

’n Kleuter van Bloemfontein begin Maandag (8/9) met bestraling in die Universitas- akademiese hospitaal nadat ’n lewensgevaarlike breinstamglioom by hom gediagnoseer is.

Anandi de Jongh, die ma van Kaden (4), glo dat gebed en die ondersteuning van die gemeenskap hom die beste moontlike kans op oorlewing sal gee. ’n Breinstamglioom is Donderdag 21 Augustus by Kaden gediagnoseer nadat ’n breinskandering ’n gewas getoon het.

In Augustus het die gesin van die Vrystaatse Goudveld na Bloemfontein verhuis. Dit is toe dat Anandi agtergekom het dat Kaden se glimlag skeef lyk – soos ná ’n beroerte of tandarts-verdowing. Sy toestand het mettertyd versleg.

Hy het sy balans begin verloor en gereeld geval. Ná hospitalisasie het hy verskeie toetse ondergaan, insluitend ’n CT-skandering en meningitis-toets, maar die resultate was aanvanklik normaal.


Volgens Brain Tumour Research ontwikkel ’n breinstamglioom in die breinstam net bokant die agterkant van die nek, waar dit die brein en rugmurg verbind.

“Wat hierdie reis nog meer hartverskeurend maak, is dat Kaden reeds groot verlies beleef het op so ’n jong ouderdom,” sê die ma. Sy pa, Francois, is aan kanker oorlede voordat Kaden self twee geword het.

“Ons enigste hoop lê in protonterapie – ’n gevorderde vorm van bestraling wat hierdie tumor presies kan teiken sonder om gesonde breinweefsel te beskadig. Dit bied aan Kaden die beste kans om die vordering van die siekte te vertraag en sy lewensgehalte te behou.


“Hierdie behandeling is egter net beskikbaar in lande soos Amerika, die Verenigde Koninkryk, Australië, Indië, Turkye en Singapoer, en kos sowat $200 000 – meer as R3,5 miljoen in die VSA alleen.”

Om hierdie behandeling moontlik te maak, het die gesin ’n fondsinsamelingsveldtog begin. Hulle versoek skenkings én gebede, en het reeds met internasionale klinieke kontak gemaak vir kwotasies.

Simptome van breinstamglioom wissel afhangend van die ligging van die gewas. Tipiese simptome sluit in hoofpyn, verlies aan beheer oor liggaamsbewegings, senuweeprobleme in die gesig (insluitend die oë), probleme om te kou of sluk, spraak wat aangetas word en soms naarheid of braking.


Ondanks die diagnose word Kaden beskryf as ’n slim en dapper seuntjie wat moeilik stilsit, daarvan hou om “Plants vs Zombies” te speel, Lego te bou en buite te speel.

“Ek wil net vra dat mense vir hom bid – dit is wat ons nou regtig nodig het. En enige skenking sal ongelooflik gewaardeer word.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.