Central SA
Klerksdorp-parkeerterreinsaak tot volgende jaar uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:43 Tue, 02 Sep 2025

Die moordverhoor van ’n man van Klerksdorp wat daarvan beskuldig word dat hy sy eksmeisie se kêrel in ’n parkeerterrein-onderonsie vermoor het, is tot 2 Februarie 2026 uitgestel.
Die verhoor van Wernich Botha, wat teregstaan weens die moord op Hilton Pretorius en poging tot moord op die sakeman PW Roos, sou Dinsdag (2/8) in die Klerksdorp-streekhof voortgaan. Dié verrigtinge kon egter nie hervat word nie nadat Botha se advokaat, Hennie du Plessis, weens ’n misverstand nie by die hof was nie.
Du Plessis was glo in ’n ander dorp nadat verwarring tussen die aanklaer en landdros ontstaan het oor of die saak Dinsdag hervat sou word.
Botha word daarvan beskuldig dat hy Pretorius aangeval het in ’n gewelddadige konfrontasie op 1 September 2023 buite Cadillac se 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp. Pretorius is 18 dae later aan ernstige kopbeserings oorlede, terwyl Roos ’n skouerbesering opgedoen het.
Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe. Foto verskaf
Verskeie vertragings is reeds in die verhoor, wat oorspronklik op 27 Januarie vanjaar sou begin, ondervind terwyl die direkteur van openbare vervolging (DOV) die aanklagte hersien het.
Hoewel daar oorweging was om die aanklag van poging tot moord te versag tot aanranding en strafbare manslag, het die DOV besluit om voort te gaan met die meer ernstige aanklagte van moord en poging tot moord.
’n Video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe Pretorius bewusteloos en bebloed in die parkeerterrein lê. Roos val nadat hy na bewering aangerand is terwyl hy probeer ingryp het.
Wernich Botha. Foto: Charne van der Merwe
Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem en later op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Die hof het vroeër drie dae in Mei vir die verhoor gesit. Botha se voormalige meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), het sleutelgetuienis gelewer.
Sy het aan die hof gesê dat Botha onverwags op die nag van 1 September uit Somalië teruggekeer het, en Pretorius by haar huis gevind het.
Sy het gesê Botha het Pretorius geslaan terwyl hy geslaap het, wat gelei het tot ’n konfrontasie later in die straat en uiteindelik by die kroeg waar die noodlottige aanranding plaasgevind het.
Honderde boodskappe van Pretorius
Van der Merwe het getuig dat Pretorius honderde boodskappe, sommige dreigend, vir haar gestuur het in die dae voor die woordewisseling. Sy het volgehou dat Botha uit selfverdediging opgetree het.
Hy het selfs probeer het om Pretorius te help ná die aanranding, deur sy mediese opleiding te gebruik terwyl hy vir ’n ambulans gewag het.
Sy het verder getuig dat ’n onderhoud met Huisgenoot toegestaan het om om Botha se karakter te verdedig en hom beskryf het as “sagmoedig, nie gewelddadig nie”.
Hilton Pretorius. Foto verskaf
Pretorius se ma, Linda Mey, sy broer, Danie Pretorius, en sy suster, Lindie Geldenhuys, was weer Dinsdag by die hof.
“Die afgelope 18 maande was baie moeilik, want ons het nog nie tyd gehad om Hilton se dood te verwerk nie,” sê Mey. “Ons is hier vir geregtigheid en glo dat geregtigheid sy loop sal neem.”
Caswell Ntoyi kla aan, terwyl Kobus Burger en Du Plessis vir die verdediging optree.