Central SA
Skeie klap die naweek in Kroonstad; strydrosse geëer─── SUSAN MARÉ 13:51 Wed, 03 Sep 2025

Die skeie gaan die naweek klap wanneer die Van-toeka-tot-nou-jukskeifees in Kroonstad gehou word.
Die doel van die jukskeisaamtrek van Vrydag (5/9) tot Saterdag op Jukskeipark in dié dorp is om aan veterane van ouer as 70 jaar erkenning te gee vir dit wat hulle vir die sport gedoen het, en steeds doen. “Ons wil erkenning gee terwyl hulle nog leef,” sê Tertius Uys, bestuurder van Jukskeipark.
“Dit is waarlik ’n sport vir alle ouderdomsgroepe en kulture en ons het selfs spelers van ouer as 80 jaar wat nog met geesdrif deelneem. Hulle gaan spesiale erkentlikheidsertifikate ontvang.”
Jessica Huebsch besigtig die skeie rondom die paaltjie op ’n oefenkamp in Kroonstad. Selfs skoolkinders is ywerige deelnemers. Foto verskaf
Jukskei is ’n groeiende inheemse spansport in Suid-Afrika wat teen ongeveer die 1730’s ontstaan het. Dit is glo deur veral transportryers bedryf, wat as ’n tydverdryf op lang togte die houtjukke en -penne van die osse gebruik het om ’n speletjie te ontwikkel deur na ’n stok te gooi wat in die grond geplant is.
Van daar het die sport bekend geword en is dit wyd beoefen, ook op strande. Dit is eers met die herdenking van die Groot Trek in 1938, toe 15 verskillende trekroetes in Suid-Afrika gevolg is, dat die skeie saans uitgehaal is en die spel besonder gewild geword het.
Verskeie “laers” (klubs) is daarna regoor die land gestig. Sommiges het in ’n bond of unie ontwikkel.
Toekaspanne gaan meeding
Die spel het na ander lande uitgebrei en daar is selfs in 1984 ’n Internasionale Jukskeivereniging (IJV) gestig. Die IJV is ’n internasionaal erkende sportfederasie wat jukskei op ’n internasionale vlak beheer en wedstryde, toernooie en toere organiseer.
Kroonstad is die hartklop van jukskei in Suid-Afrika en volgens Uys gaan daar die naweek ’n feestelike atmosfeer heers. Vier “toekaspanne” van spelers van ouer as 70 gaan in vertoonwedstryde teen mekaar meeding.
In 2025 is daar in elke provinsie unies wat aan Jukskei Suid-Afrika verbind is.
Van links is die spelers van die Bethlehem-jukskeiklub Hennie Pienaar, Kobus van der Wath, Danie Bierman (voorsitter), Oosie Oosthuizen, Pieter Grobbelaar, Annemarie Jacobs, Cora Coetzer en Riaan Coetzer (voorsitter van Oos-Vrystaat Jukskei). Foto verskaf
Kos- en ander stalletjies ten bate van die uitstallers self en ’n kroeg sal beskikbaar wees vir mense wat saam wil kom kuier. Nog interessanthede sal musiek en die optrede van ’n gaskunstenaar wees en die vertoon van veteraanmotors.
Die Jukskei-museum op die terrein kan ook besigtig word.
“Jukskei is ’n spel vir alle ouderdomme en ons is bly dat selfs skoolkinders ywerige deelnemers is. Dit is glad nie so ’n maklike sport soos wat mense dink nie en dit verg strategie en oefening om die skeie oor verskillende afstande na ’n ingeplante pen te gooi,” sê Uys.
Daar is vier spelers in ’n span en ’n wedstryd duur sowat ’n uur. Spanne neem deel in enkelspel, tweespel, dubbelspel en vierspel, en elke span probeer mekaar uitoorlê met presisie-gooie en strategie.
Die deelnemers staan bekend as neefs, niggies en penkoppe (onder 17 jaar). Die huidige vorm van die skei het ontstaan nadat ossewaens in onbruik verval het en oorspronklike skeie is baie skaars.
Die skeie waarmee gespeel word het ’n bottelvorm – ’n silindervormige romp met ’n nouer handvatsel aan die een end. Die totale lengte van ’n skei moet minstens 30 cm wees en dit moenie meer as 1,8 kg weeg nie.
Samehorigheid en onderlinge spangees
“Ons nooi besoekers uit om die feestelikheid en jukskeiwedstryde saam met ons in Kroonstad te kom geniet,” sê Uys.
Nog ’n geesdriftige jukskeispeler, die voorsitter van die Bethlehem-klub, Danie Buurman, sê jukskei is nog springlewendig in die Oos-Vrystaat. Bethlehem en Frankfort is die dorpe met klubs en gereelde deelnemers aan toernooie.
Dit is landwyd ’n groeiende sport. Danie sê wat jukskei as sport besonders maak is die samehorigheid en die onderlinge spangees wat heers.
Erfenissport
“Die spel is glad nie so maklik nie. Dit is liggaamlik uitputtend om vir ’n week lank voldag aan ’n toernooi deel te neem.”
Die afstande wat skeie na ’n ingeplante paal gegooi word, wissel. Vir spelers onder 50 is dit 16 m, vir spelers tussen 50 en 60 is dit 14 m en vir spelers ouer as 60 jaar 13 m.
“Ek wil almal in en om Bethlehem uitnooi om by ons klub aan te sluit. Dit is ’n erfenissport en ons wil graag ander mense daaraan blootstel.”
Die klub oefen Saterdae van 14:00 op die bane naby die vliegveld.
OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh