On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Potch-trekker op pad na Bredasdorp vir bewusmaking oor demensie, alzheimersiekte

───   ZENANDE MPAME 14:29 Wed, 03 Sep 2025

Potch-trekker op pad na Bredasdorp vir bewusmaking oor demensie, alzheimersiekte | News Article
Die trekker wat van Potchefstroom op pad is na Bredasdorp vir bewusmaking oor demensie en alzheimersiekte. Foto verskaf

’n Kleurvolle trekker is tans met ’n ondersteuningspan van Potchefstroom na Bredasdorp onderweg om so wyd as moontlik bewustheid van demensie en alzheimersiekte te bevorder.

Die Noordwes-demensie-en-alzheimerbewustheidstoer doen binnekort Carnarvon aan om die gemeenskap daar in te lig oor hierdie siektes en hoe dit bejaardes beïnvloed. Die toer, in samewerking met die Noordwes-Universiteit, skep bewusmaking oor demensie en alzheimersiekte by dorpe op hul roete.

Deur die projek – Together Rallying Across Communities To Overcome Remembrance-loss (Tractor) – word talle dorpe in Noordwes en die Noord- en Wes-Kaap aangedoen om mense wat deur hierdie siektes geraak word, in te lig en te ondersteun.

Die trekker het Woensdag (3/9) in Britstown gestop, waar belangrike inligting oor die siektes met die gemeenskap gedeel is. Die toer het Sondag (30/8)  in Potchefstroom begin en eindig volgende Donderdag, ná ’n afstand van 1 900 km, by Nampo Kaap 2025 in Bredasdorp.


“Die projek het begin met drie susters wat ter nagedagtenis van hul pa, wat ook demensie gehad het, dié reis met ’n trekker aangepak het,” sê Karlien van Wyk, spanlid. Waar moontlik ry hulle deur die dorpe.

“Ons is elke dag in ’n nuwe dorp om bewusmaking te skep. Ons wil graag hierdie boodskap met almal deel – nie net om te sê dat demensie ’n werklikheid is nie, maar ook om te beklemtoon dat daar hulp beskikbaar is.

“Ons het vanoggend (Woensdag) op Britstown aangekom, waar die span reeds met die gemeenskap in gesprek is. Ons nooi almal wat meer inligting wil hê of hul storie wil deel, om ons te kom besoek.”


Die projek is van stapel gestuur in samewerking met ander departemente van die NWU, die Demensie-en-alzheimervereniging van Suid-Afrika, asook met die ondersteuning van korporatiewe en ander belanghebbendes.

OFM Nuus het vroeër berig die trekker-toer is simbolies van die stadige verloop van die siekte, maar ook die sterk teenwoordigheid van ondersteuning in baie Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

Dit beeld die stadige en wrede vordering van demensie uit, sowel as die krag van mense wat hierdie siekte van hul geliefdes meemaak. Die span sal op hul toer ook ouetehuise besoek en inligting in verskeie dorpe versprei.

Die span van die demensie-en-alzheimerbewustheidstoer. Foto verskaf

Teen 2030 sal daar na verwagting sowat 250 000 demensiepasiënte in Suid-Afrika sal wees. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is demensie in 2021 wêreldwyd by 57 miljoen mense gediagnoseer.

Die plekke waar die span oornag, sluit in Bloemhof, Kimberley, Hopetown, Britstown, Carnarvon, Williston, Calvinia, Vanrhynsdorp, Citrusdal, Tulbagh, Robertson en Bredasdorp.

Hulle ry ook deur die volgende dorpe: Wolmaransstad, Christiana, Warrenton, Strydenburg, Nieuwoudtville, Clanwilliam, Piketberg, Moorreesburg, Riebeek-Kasteel, Hermon, Worcester en Swellendam.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.