Central SA
Inhegtenisneming van arts (80) vir moord op Kroonstad-plaas verwelkom─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:28 Thu, 04 Sep 2025

ActionSA verwelkom die inhegtenisneming van ’n 80-jarige afgetrede dokter, wat verbind word met die moord op ’n man waarna die liggaam glo in die geheim op ’n plaas tussen Kroonstad en Welkom begrawe is.
Die bejaarde is aangekeer ná weke se openbare verontwaardiging en volgehoue druk uit die gemeenskap dat geregtigheid geskied. Die 80-jarige is saam met sy kleinseun (17) in hegtenis geneem nadat ’n polisieondersoek gelei het tot die ontdekking van ’n liggaam in ’n vlak graf op sy grond.
Die twee word aangekla van onder meer moord, poging tot moord, regsverydeling, roekelose ingevaarstelling, en oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.
Patricia Kopane, Vrystaatse voorsitter van ActionSA, loof die polisie vir hul vinnige optrede.
“Die grusame ontdekking van die slagoffer se liggaam in ’n vlak graf het die nasie geskok en weereens die kwesbaarheid van plaaswerkers en arm gemeenskappe in ons provinsie ontbloot.
“Hoewel ons bemoedig is dat die reg sy loop begin neem, bly ons waaksaam. ActionSA sal die saak noukeurig dophou om te verseker daar is geen vertragings of pogings om iemand op grond van ouderdom, sosiale status of verbintenisse te beskerm nie,” sê Kopane.
Sy vra die owerheid moet verseker die ondersoek is deurgaans deeglik en deursigtig en dat almal wat betrokke was, tot verantwoording geroep word.
Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder, bevestig die twee verdagtes sou na verwagting Donderdag (4/9) in die Kroonstadse landdroshof om borgtog aansoek doen, nadat hul eerste verskyning Woensdag uitgestel is.
Volgens Senokoatsane is die minderjarige, in ooreenstemming met die Kinderregtewet, ná sy hofverskyning in die sorg van sy wettige voog geplaas.