Central SA
Valke se beslagleggingsbevele knou misdaadnetwerke in Noord-Kaap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:18 Thu, 04 Sep 2025

Die Valke se stryd teen georganiseerde misdaad in die Noord-Kaap het misdaadnetwerke ’n knou toegedien nadat beslagleggingsbevele van meer as R13 miljoen toegestaan is.
Die hooggeregshof in Kimberley het die bevele Woensdag (3/9) uitgereik ná ondersoeke deur die Valke se spesialisondersoekeenheid vir prioriteitsmisdaad en die NVG se batebeslagleggingseenheid, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder. “In die eerste geval is ’n deursoekingslasbrief rondom Kleinsee en Port Nolloth uitgevoer waar verskeie onwettige mynwerkers aangekeer en later na hul land van herkoms gedeporteer is.”
Tydens die operasie het ondersoekbeamptes beslag gelê op 244 kragopwekkers, 155 lughamers en 58 bore, sê Mnisi. Die hooggeregshof het gelas die toerusting moet aan die staat verbeurd verklaar word.
“In ’n afsonderlike saak is A. Mangongwa (34) weens veediefstal in hegtenis geneem nadat hy nie permitte kon toon vir vee wat hy vervoer het nie. Daar is ook beslag gelê op sy voertuig ter waarde van R200 000, wat later deur ’n hofbevel verbeurd verklaar is.”
Bevel stuur sterk boodskap
In ’n derde voorval het die polisie ’n voertuig onderskep wat twee vermoedelik gesteelde skape vervoer het. Die bestuurder, ene K. Losper (54), is in hegtenis geneem vir veediefstal, en beslag is gelê op die voertuig, ter waarde van R170 000.
Genl.maj. Stephen Mabuela, provinsiale Valke-hoof, loof die ondersoekbeamptes. “Dit is ’n bewys dat ons meedoënloos is in ons agtervolging van misdadigers en ons sal daarmee volhou om te verseker dat misdaad nie betaal nie.
“Ons spanne het toewyding getoon in die bekamping van misdaad, en hierdie verbeurdverklaringsbevele stuur ’n sterk boodskap aan diegene wat dink hulle kan wins maak uit onwettige aktiwiteite.”
OFM Nuus cvs