On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Afgetrede Kroonstadse arts ontken skuld ná gru-vonds op plaas

───   10:36 Fri, 05 Sep 2025

Afgetrede Kroonstadse arts ontken skuld ná gru-vonds op plaas | News Article
Thomas Macingwane, die EFF se provinsiale ondervoorsitter, het vroeër ’n plakkaatbetoging voor dr. Koos Troskie se prakty in Kroonstad gelei. Foto: EFF is

’n Afgetrede mediese dokter van Kroonstad pleit onskuldig op verskeie ernstige aanklagte, waaronder moord, poging tot moord, regsverydeling en vuurwapenoortredings, nadat ’n liggaam in ’n vlak graf op sy plaas gekry is.

Die verdagte (80) en sy kleinseun (17), wie se naam nie bekend gemaak mag word nie omdat hy minderjarige is, staan tereg op ’n rits aanklagte. Die borgtogaansoek dien voor die Kroonstadse landdroshof en sal na verwagting Vrydag (5/9) hervat word vir slotbetoë en uitspraak ná ’n uitstel.

Die aanklagte spruit uit ’n polisieondersoek waarin die oorskot van Thabo Mashia in ’n vlak graf op Troskie se eiendom aangetref is. Die ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van die bejaarde en sy kleinseun, wat met die misdaadtoneel verbind word.

Met hul borgtogaansoek Donderdag het die afgetrede dokter se regspan ’n beëdigde verklaring voorgelees waarin die beskuldigde alle bewerings teen hom ontken. Die 80-jarige beweer hy dra geen kennis van Mashia nie en die oorledene het nooit vir hom gewerk nie.

Geen respek vir menselewens

Die verdagte voer aan hy was nie op die plaas toe die skietvoorval plaasgevind het nie. Luidens sy verklaring was hy in sy privaat praktyk in Kroonstad en het hy eers ná die voorval plaas toe gegaan.

Sy verdediging sê hy sal eers ten volle op die moordklag kan reageer sodra hy die volledige besonderhede van die staat ontvang het.

Die vervolging beskuldig die bejaarde daarvan dat hy roekeloos opgetree het en geen respek vir menselewens het nie. Hy is uitgebeeld as iemand wat eie reg gebruik en probleme met vuurwapens probeer oplos, selfs sonder enige werklike bedreiging.

Departement veroordeel voorval

Voorts het die staat beklemtoon die verdagte het geen voorval of misdaad by die polisie aangemeld nie, wat glo bewys hy ag hom verhewe bo die reg. Hy bly in aanhouding in polisiesorg hangende die hof se uitspraak.

Die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer veroordeel die beweerde misdaad. LUR Jabu Mbalula spreek sy afsku in en hartseer oor die saak uit.

“Op die rype ouderdom van 80 sou die verdagte ongetwyfeld die gewelddadige, rassistiese onderdrukking van apartheid eerstehands beleef het,” sê Mbalula. “As ’n plaasbesitter is hy ten volle bewus van die mishandeling wat plaaswerkers in die verlede ervaar het en steeds vandag ervaar.”

Mbalula vergelyk die saak met ander rasgedrewe voorvalle in die provinsie. “Langer as 31 jaar ná ons vryheid sien ons steeds hoe wit mense swart mans vermoor en in vlak grafte begrawe.

‘Nou word liggame sommer begrawe asof hulle niks werd is nie’

“Dit is nie genoeg dat swart mense doodgeskiet word deur onbeskaamde rassiste wat later beweer hulle het ’n aap sien aankom nie – nou word liggame sommer begrawe asof hulle niks werd is nie.”

Hy verwys na die Matlhomola Mosoeu-saak van 2017, toe twee boere daarvan beskuldig is dat hulle ’n 16-jarige van ’n bewegende voertuig afgegooi het nadat hulle hom van sonneblomdiefstal beskuldig het. Dit het landwyd ontsteltenis ontlok.

Mbalula vra mense moet hulle steeds beywer vir die bou van ’n nierassige, verenigde Vrystaat.

Die borgtogaansoek hervat Vrydag in die Kroonstadse landdroshof, waar slotbetoë gelewer sal word voor uitspraak gelewer word.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.