Central SA
Oom Paul trek ‘simbolies’ Orania toe─── SUSAN MARÉ 12:39 Tue, 09 Sep 2025
Presies 200 jaar nadat Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) van 1883 tot 1900, gebore is, maak hy weer presidensiële opslae.
Oom Paul, soos in die volksmond na hom verwys word, is op 10 Oktober 1825 gebore en op 14 Julie 1904 oorlede. In 2025 gaan hy sy beroemde standbeeldtuiste op Kerkplein in Pretoria simbolies verlaat om ’n nuwe tuiste in Orania in die Noord-Kaap te vind.
Die Kruger-na-Orania-projek van 24 September tot 2 Oktober word uitgevoer deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Orania-ontwikkelingsmaatskappy (OOM). Die Solidariteit-beweging, Afriforum en Helpende Hand maak hierdie geskiedkundige toer geldelik moontlik.
Die tien dae lange toer met ’n replika van die Kruger-beeld op Kerkplein skop by die Voortrekkermonument af met ’n presidensiële feesparty ter herdenking van sy 200ste verjaardag.

’n Kunstenaarsvoorstelling van die Kruger-bronsbeeld van 10 meter hoog met ’n gewig van 1,5 ton wat deur die beeldhouer Jacques Müller gemaak word.
Die toergroep, wat verskeie dorpe gaan aandoen, sluit ook ’n toneelgroep onder leiding van die Oranje-kunsteraad in. Hulle gaan NP van Wyk Louw se Kruger breek die pad oop opvoer.
Die Kruger-bronsbeeld – 10 m hoog met ’n gewig van 1,5 t – is deur die beeldhouer Jacques Müller gemaak en gaan in die middedorp van Orania opgerig word. Die voorlopige terreinontwikkelingsplan vir Orania se nuwe middedorp is reeds ingedien.
Die koste om die beeld te giet en ’n voetstuk te bou en op te rig beloop R2,6 miljoen. Ondersteuners en lede van die Orania-beweging is genooi om boustene teen R1 000 elk te koop.
Volgens Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die OOM, is Kruger die figuur wat die Afrikaner se strewe na vryheid die sterkste weerspieël: “Hy beliggaam die bittereindergees van iemand wat nie sy volk se vryheid wou prysgee nie.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, beklemtoon die belangrikheid van die projek. “Paul Kruger is vir Afrikaners veel meer as ’n standbeeld of historiese figuur – hy is die beliggaming van Afrikaners se vryheidsideaal oor geslagte heen en in verskillende kontekste.
“Daarom is dit hartseer dat mense vandag huiwer om die plek te besoek waar hy op die historiese Kerkplein staan waar vandalisme, verval en misdaad die omgewing oorheers. Nou is die oomblik om vir Kruger ’n waardige nuwe tuiste te gee deur ’n stadsplein op Orania te skep waar Afrikaners kan saamkom, die vryheidsideaal kan vier, en dit aan die volgende geslag kan oordra.”

Jacques Müller werk hier nog aan die beeld. Foto verskaf
Die toneelstuk Kruger breek die pad oop word tien keer tydens die toer opgevoer. Die verhaal speel in 1863 af – die tyd net nadat die Voortrekkerstate (Vrystaat en Transvaal) hul onafhanklikheid deur Engeland verkry het.
Dit was van die moeilikste en donkerste tye in die geskiedenis van die Boererepublieke. Die toneelstuk handel oor die lewe van Kruger en die moelike besluite wat hy moes neem om reg en orde in Transvaal te vestig.
Die toerprogram
Die toerprogram lyk soos volg:
- Pretoria – 24 September
- Rustenburg – 25 September
- Potchefstroom – 26 September
- Krugersdorp – 27 September, oggend
- Heidelberg – 27 September, middag
- Vereeniging – 29 September, oggend
- Parys – 29 September, middag
- Heilbron – 30 September
- Bloemfontein – 1 Oktober
- Orania – 2 Oktober
Vir meer inligting, besoek die webwerwe of YouTube-plasings van OOM en die FAK.
OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh
