Central SA
5 ná 3 jaar in hof oor Jagersfontein-slikramp─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:22 Tue, 09 Sep 2025

Vyf Vrystaters sal Woensdag (10/9) in die hof verskyn in verband met die damwal-ineenstorting presies drie jaar gelede by Jagersfontein waarin drie mense dood en tientalle huise verwoes is.
Die mans, tussen 34 en 80 jaar oud, is ná drie jaar gedagvaar om in die Jagersfontein-landdroshof te verskyn oor die tragedie waarin die wal van ’n slikdam by die diamantverwerkingsaanleg in Jagersfontein meegegee het, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder. Die beskuldigdes – insluitend werknemers van ’n ingenieursfirma, ’n voldoeningsbeampte en ’n bedryfsbestuurder – staan tereg op aanklagte wat moord, opsetlike saakbeskadiging en oortredings van die Wet op Gesondheid en Veiligheid insluit.
In die ramp, op 11 September 2022, is drie lewens geëis terwyl een persoon steeds vermis word en die huise van ongeveer 186 inwoners in die Charlesville- en Itumeleng-nedersettings vernietig is.
In ’n verslag deur die Bench-Marks-stigting is die ekonomiese impak van die ineenstorting onthul, en daarop gewys dat ’n boer in Vlakfontein 90% van sy skape as gevolg van die ramp verloor het.
Geweldige skade is aangerig toe die slikdam se wal meegegee het. Foto: Brown Motsau
“Die Jagersfontein-slikdamramp het geweldige eiendomskade en lewensverlies veroorsaak. Ons verwelkom die dagvaardings wat uitgereik is aan individue wat nou aanspreeklik gehou moet word vir hierdie verwoestende gebeurtenis,” het dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, vroëer gesê.
“Mense is lank vooraf gewaarsku dat dit ’n potensiële risiko is, maar daardie waarskuwings is geïgnoreer.”
Mohobeleli het bevestig dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ná ’n uitgebreide strafregtelike ondersoek deur die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing die vervolging van die vyf gemagtig het.