On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Marita van der Vyver oor haar nuwe boek, diep emosionele reis

───   ISABEL VAN TONDER 15:15 Tue, 09 Sep 2025

Marita van der Vyver oor haar nuwe boek, diep emosionele reis | News Article
Marita van der Vyver met haar boek. Foto: Isabel van Tonder

Jy reis saam met jou vrees, en op die ou einde bereik jy ’n wonderlike soort vryheid. “Soos Janis Joplin sing in daardie liedjie wat ons motto geword het: ‘Freedom is just another word for nothing left to lose’.”

So gesels die skrywer Marita van der Vyver oor haar reis met haar boek My jaar van vrees en vryheid, ’n diep persoonlike reisverhaal wat ontstaan het in die tyd toe die Covid-19-pandemie haar en haar Franse man gedwing het om hul geliefde huis op die Franse platteland te verkoop. Hulle het die meeste van hul besittings agter gelaat en ’n swerfjaar oor drie vastelande aangepak. Sy besoek tans Suid-Afrika.

Isabel van Tonder van OFM het op haar besoek aan Bloemfontein met Van der Vyver gesels oor haar reis tydens die skryf van die boek.

“Baie keer word ’n mens gedwing om dinge te doen wat jy nie dink jy dapper genoeg voor is nie. Maar dan, deur ’n sameloop van omstandighede, moes ek dapper raak,” sê sy oor waar en hoe die reis begin het.

Die uitgewer van My jaar van vrees en vryheid deur Marita van der Vyver is Eben Pienaar. Foto: Isabel van Tonder

“Ek skryf in die boek oor hoekom ons hierdie reis onderneem het. Dis iets waaroor ons lank gedroom het – om miskien eendag, wanneer my Fransman aftree, ’n lang reis te doen. ’n Swerfjaar. Maar ons sou dit nooit kon bekostig as ons nog ’n huis moes afbetaal nie – die bank, belasting, al die dinge wat saamgaan met huiseienaarskap.

“Toe moes ons die huis verkoop. My inkomste het basies verdwyn tydens Covid, soos by baie mense. My man het ’n ernstige depressie-episode gehad en was vir ’n jaar met siekverlof. ’n Hele klomp slegte dinge het saamgeval en die mat onder ons voete uitgeruk.”

Die huis het binne ’n dag verkoop – aan die eerste kopers. “Skielik kyk ons na mekaar: Wat nou? En toe dog ons, nou kan ons daardie mal perd opsaal waarvan ons altyd gedroom het, maar nooit kon bekostig nie. Om adresloos te swerf.”

">

Omdat  hulle albei ouer as 60 is, was hulle baie banger as jong mense wat ’n gap year vat. “Maar juis daardeur het ons geleer: Deur die reis kom ’n vorm van bevryding. Jy reis saam met jou vrees, en op die ou end bereik jy tog ’n wonderlike soort vryheid.”

Hulle kon nie te ver vooruit beplan nie. “Dit was die hoogtepunt van Covid toe ons begin reis het – grense het oop- en toegemaak soos verskillende vlae gekom het.

“Eerstens het ons deur Europa gereis, hoofsaaklik om bande te versterk wat deur die afsondering van Covid dun geword het – ons volwasse kinders wat daar woon, my aangetroude familie en vriende. Europa verteenwoordig vir my die bekende, wat nou my bekende geword het.

Speellys op YouTube en Spotify

“Dan Amerika – omdat dit die onbekende is, en omdat dit ons albei fassineer. Ek was al daar, my man nog nooit.”

Hulle albei is baie lief vir musiek en flieks. “Amerika is vir ons die land van verwysings, van road trips. Ons het ’n speellys saamgestel – mense kan dit op YouTube of Spotify gaan luister: My jaar van vrees en vryheid / My Year of Fear and Freedom.” Dis ook in Engels beskikbaar – nege uur se musiek.

En  toe het Suid-Afrika gevolg. “Iemand het gesê: Jy reis om tuis te kom. Suid-Afrika is waar my wortels lê. Ek kon vir my Fransman wys waar ek vandaan kom – die platteland, Oos-Kaap, Karoo – plekke wat hy voorheen net vlugtig gesien het.”

Die skryfproses is vir Van der Vyver helend. Foto: Isabel van Tonder

Die skryfproses was vir haar helend, maar ook ’n herlewing van pyn. “Soos enige skryfproses. Jy doen dit nie as terapie nie, maar daar is ’n vorm van heling, en ook pynherlewing. Ek moet oor iets skryf voor dit vir my waar raak – voor ek weet wat ek daaroor voel. Terwyl ek dit beleef, is my gedagtes in ’n warboel. Maar as ek daaroor skryf – selfs in fiksie – dan weet ek wat ek voel.”

Die reis het vir vryheid gebring. Hoe ervaar sy nou hierdie vryheid, meer emosioneel, geestelik of prakties?

“Dis ’n kombinasie van alles. Prakties het ek geleer om met minder klaar te kom. Ek het vir 15 maande uit ’n tas geleef. Elke gram tel. As jy ’n paar sokkies present kry, moet jy ’n paar weggee. Ek probeer daardie reël steeds toepas – selfs nou met ’n klerekas.

‘Vryheid is ’n houding waarmee jy die alledaagsheid oorwin’

“Maar ook emosioneel en geestelik. Aan die einde van die boek haal ek die Suid-Afrikaanse filosoof Johannes Degenaar aan: Vryheid is ’n houding waarmee jy die alledaagsheid oorwin. Dis juis wanneer jou lewe terugkeer na die alledaags, dat jy daardie vryheid nodig het.”

Wat sy hoop lesers uit die boek sal put? “Ek hoop lesers wat al op sommige van die plekke was, sal ’n soort erkenning ervaar. En dat lesers wat glad nie die plekke ken nie, saam met my sal reis – ’n leunstoelreisiger. Die terugvoer wat ek kry, wys dit gebeur. Maar dis ook ’n binnereis. Nie net ’n buitereis nie. Ek hoop lesers sal daardie binnereis saam met my meemaak.”

OFM Nuus/Isabel van Tonder cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.