On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Mynregte-bedrog: Twee se saak oorgeplaas na Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:14 Wed, 10 Sep 2025

Mynregte-bedrog: Twee se saak oorgeplaas na Kimberley | News Article
Roslyn Crossingham

Twee Noord-Kapenaars, wat daarvan beskuldig word dat hulle ongeldige mynregte verkoop het, se saak is uitgestel tot 30 Oktober vir oorplasing na die hof vir ernstige handelsmisdade in Kimberley.

Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het Woensdag (10/9) in die Douglas-landdroshof verskyn op aanklagte van mynregtebedrog, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder. Crossingham en Rapetsoa is met hul eerste hofverskyning borgtog van onderskeidelik R15 000 en R800 toegestaan.

Crossingham het aanvanklik op 9 Julie verskyn en is later as die tweede beskuldigde in die saak bygevoeg, naas Rapetsoa, ’n mede-direkteur van Rowen Tree 60, wat die eerste keer op 19 Junie verskyn het.

Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek vir die hernuwing van prospekteerregte teruggetrek het, wat reeds deur die departement van minerale hulpbronne en energie verwerk was. Crossingham het na bewering dieselfde gedoen met ’n aansoek wat in 2012 ingedien is, terwyl sy ook as mede-direkteur van Rowen Tree 60 gedien het.

Onttrekkingsbrief glo weggesteek

Die twee en hul mede-direkteure word daarvan beskuldig dat hulle steeds die maatskappy – saam met die ongeldige mynregte – in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop het.

“Voordat die betaling gefinaliseer is, het Crossingham na bewering die maatskappy weer verkoop – hierdie keer aan die klaer – terwyl die onttrekkingsbrief weggesteek is om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was,” sê Mnisi.

Omdat die klaer geglo het dat die mynregte geldig was, het hy R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal. Volgens Mnisi is R100 000 van hierdie bedrag na bewering in die persoonlike rekening van een van die direkteure gedeponeer.

“Die transaksie het uiteindelik daartoe gelei dat die klaer die volle R1,368 miljoen verloor het,” sê sy.

Mnisi het bevestig dat verdere inhegtenisnemings verwag word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.