Central SA
Jagersfontein-ramp: Saak uitgestel tot Oktober─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:37 Wed, 10 Sep 2025

Die strafsaak teen vyf Vrystaters, wat daarvan beskuldig word dat hulle aanspreeklik is vir die Jagersfontein-ramp, is tot 22 Oktober uitgestel.
Die Jagersfontein-landdroshof het die uitstel Woensdag (10/9) toegestaan om die verdedigingspanne toegang tot die dossier te gee en voldoende tyd te bied om die inhoud daarvan te bestudeer. Die beskuldigdes, Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45), het almal Woensdag in dié hof verskyn. Jagersfontein Developments is ook aangekla.
Die vyf staan saam met verskeie maatskappye tereg op altesaam 13 aanklagte, wat wissel van moord tot omgewingsbesoedeling en die oortredings van damveiligheidsregulasies.
Die aanklagte sluit die volgende in:
- Drie van moord, ingevolge Artikel 51(1) van die Strafregwysigingswet, wet 105 van 1997;
- Beduidende omgewingsbesoedeling;
- Versuim om aan watergebruikslisensievoorwaardes te voldoen;
- Die verskaffing van valse of onvolledige inligting;
- Die blemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie (DWS) om hul pligte uit te voer;
- Die versuim om DWS-riglyne na te kom;
- Die versuim om ’n dam met veiligheidsrisiko’s te registreer;
- Ongemagtigde veranderinge aan ’n dam met veiligheidsrisiko’s;
- Die versuim om ’n professionele span vir damontwerp aan te stel;
- Die versuim om aan kategorie III-dammonitering en -rapportering te voldoen;
- Die versuim om aan kategorie III-damveiligheidsvereistes te voldoen;
- Die oortreding van Artikel 9 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, wet 85 van 1993; en
- Kwaadwillige saakbeskadiging (121 aanklagte).
Gemeenskapslede Woensdag in die hof. Foto: Charne van der Merwe
Volgens die akte van dading word die beskuldigdes daarvan aangekla dat hulle op 11 September 2022 die dood van Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu veroorsaak het. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie.
Die sterftes word verbind met die voorval waarin die wal van die Fynafvalbergingsfasiliteit (FTSF) gebreek het. Dit is na bewering veroorsaak deur die oorskryding van die perke van die watergebruikslisensie, die ignorering van DWS-riglyne en die indien van stabiliteitsverslae wat benede peil was.
Sowat 186 inwoners van die Charlesville- en Itumeleng-nedersettings het hul huise in die ramp verloor. Volgens ’n verslag van die Bench-Marks-stigting het ’n boer in Vlakfontein 90% van sy skape verloor.
“Die Jagersfontein-slikdamramp het geweldige skade aan eiendom veroorsaak en tot die verlies van lewens gelei,” het dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, vroeër gesê.
“Ons verwelkom die dagvaardings wat uitgereik is aan individue wat nou aanspreeklik gehou moet word vir hierdie verwoestende gebeurtenis. Mense is lank vooraf gewaarsku dat dit ’n potensiële risiko was, en daardie waarskuwings is geïgnoreer.”
Die vervolging is ingestel ná ’n intensiewe strafregtelike ondersoek deur die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing, waarop die Nasionale Vervolgingsgesag besluit het om die verdagtes te vervolg.