On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Net een Vrystaatse stortingsterrein voldoen aan vereistes – verslag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:31 Thu, 11 Sep 2025

Net een Vrystaatse stortingsterrein voldoen aan vereistes – verslag | News Article
Die Bloemfontein-Suid-vullisterrein. Foto: AfriForum

Slegs een van die 22 stortingsterreine wat vanjaar in die Vrystaat geoudit is, voldoen aan die mees basiese vereistes vir behoorlike stortingsterreinbestuur, luidens AfriForum se jongste jaarlikse stortingsterreinoudit.

Die organisasie het hom daartoe verbind om hierdie ouditbevinding aan die departement van bosbou, visserye en die omgewing voor te lê, en versoek dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul voortgesette versuim om stortingsterreine behoorlik te bestuur.

Die jongste oudit plaas die provinsie onder die swakste presteerders in die land, met slegs die Noord-Kaap met ’n gemiddelde voldoeningstelling van 13% wat swakker gevaar het, sê Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir omgewingsake by AfriForum. Die Vrystaat het net ’n effens beter telling van 18% behaal.

AfriForum waarsku nou oor die ernstige en sistemiese verswakking van die bestuur van stortingsterreine regoor die provinsie.

Kommerwekkende tendens 

De Vaal sê nasionaal het AfriForum in 2025 altesaam 169 van Suid-Afrika se 544 stortingsterreine geouditeer – byna ’n derde – en bevind dat slegs een uit vyf aan die minimum standaarde voldoen om gemeenskappe en die omgewing teen besoedeling te beskerm.

Volgens De Vaal beklemtoon hierdie resultate ’n kommerwekkende tendens: Munisipaliteite regoor die land is óf nie in staat nie óf onwillig om selfs die mees basiese diensleweringsverantwoordelikhede na te kom.

“Ten spyte van die Vrystaat se swak prestasie, was daar ’n klein mylpaal – vir die eerste keer in vyf jaar het een terrein in die provinsie wel aan die ouditvereistes voldoen. Die Vaalpark-oorlaaistasie in Sasolburg was die enigste stortingsterrein in die Vrystaat wat die oudit geslaag het.”

Eerste in jare wat slaag

De Vaal sê nie een van die 23 terreine wat in 2021 geoudit is, die 24 van 2022 of die 27 wat in 2023 en weer verlede jaar geoudit is, kon die toets slaag nie.

“Terwyl die gemiddelde voldoeningstelling in die provinsie effens verbeter het van 14% tot 18% oor die afgelope jaar, bly die algehele prentjie somber.” Die meeste terreine hou steeds ernstige risiko’s in vir menslike gesondheid en die omgewing, wat waarskynlik bydra tot voortdurende lug-, water- en grondbesoedeling, sê hy.

Kommerwekkend is dat 11 van die Vrystaat se geouditeerde stortingsterreine se voldoening onder 10% is. Dit sluit in die terreine in Parys, Welkom, Frankfort en Heilbron (elk 8%); Harrismith en Senekal (6%); Bothaville, Reitz en Viljoenskroon (4%); Deneysville (2%); en Hennenman, wat 0% behaal het.

Agteruitgang nou kritiek

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikkoördineerder vir die Mooirivier-gebied, het die agteruitgang in die toestand van stortingsterreine kritieke vlakke bereik. Sy berig dat dié terreine in gebiede soos Heilbron en Parys – albei in die Ngwathe-munisipaliteit – in ’n skokkende toestand is.

Informele herwinners intimideer dikwels inwoners, versper toegang of spring selfs op voertuie, wat die terreine onveilig maak vir openbare gebruik. Gevolglik begin baie inwoners nou afval buite stortingsterreine aflaai om hierdie konfrontasies te vermy, wat die besoedelingsprobleem verder vererger.

Christa Ikking, AfriForum se distrikkoördineerder vir die Hoogland-streek, sê geen van die stortingsterreine in haar streek – wat die grootste deel van die Vrystaat buite die noordelike streek en Bloemfontein dek – voldoen aan die regulatoriese standaarde nie. Sy lig uit dat lisensies ontbreek, daar swak sekerheid en toesig is, asook ’n algehele afwesigheid van afvalverwerking- of herwinningsbedrywighede.

‘As gevolg van hierdie onveilige en ontoeganklike toestande het onwettige storting langs paaie alledaags geword’

“As gevolg van hierdie onveilige en ontoeganklike toestande het onwettige storting langs paaie alledaags geword, wat ’n beduidende bedreiging vir plaaslike waterbronne en die algemene openbare gesondheid inhou.”

Sy sê die organisasie sal voortgaan om gemeenskapsgedrewe oplossings te ondersteun en uit te brei, insluitend deur sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en verskeie herwinningsprojekte regoor die land.

Volgens De Vaal bly hierdie grondvlakpogings die enigste realistiese pad na volhoubare afvalbestuur in baie gebiede, aangesien gemeenskappe toenemend gedwing word om te vergoed vir munisipale stelsels wat misluk.

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.