On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Operasie Shanela II: Gesteelde vee in Mangaung-omgewing gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:19 Sat, 13 Sep 2025

Operasie Shanela II: Gesteelde vee in Mangaung-omgewing gevind | News Article
Die gesteelde vee wat teruggevind is. Foto: SAPD

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat die Vrystaatse polisie 16 gesteelde beeste teruggevind het nie.

Die gesteelde vee is deur die landelikeveiligheidspan gevind terwyl hulle naby die Langfontein-plaas in die Mangaung-metro gepatrolleer het, sê lt. kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Hoewel die beeste suksesvol teruggevind is, is niemand nog in hegtenis geneem nie.” 

Die vonds is deel van Operasie Shanela II wat toegespits is op misdaadbrandpunte in Bloemspruit, Kopanong en die Mangaung-metro. 

Die polisielede tydens die klopjag. Foto: SAPD

Genl.maj. Arthur Peter Adams, distrikskommissaris van Mangaung-metro, het die multidissiplinêre operasie saam met brig. Dingiliswe Esau Fothoane en brig. Teboho Raymond Jacobs, gelei. Die polisiebeamptes is ondersteun deur die departement van binnelandse sake en die Bloemfonteinse brandweer.

Die spanne is in drie groepe verdeel om voet- en voertuigpatrollies, padversperrings en stop-en-deursoek-aksies uit te voer, sê Covane. “Die klem was op die bekamping van die verspreiding van onwettige dwelms en vuurwapens, die voorkoming van gewelddadige aanrandings wat dikwels tot moord lei, geslags- en gesinsgeweld, huisrooftogte en motorkapings.”

Die polisie het ook op sjebeens in die omgewing toegeslaan. Foto: SAPD

“Vier sjebeens is gesluit, boetes is vir die verkoop van drank sonder ’n lisensie uitgereik en drank is in Pieter Swarts en Fase 7 gekonfiskeer.”

Nege mense is vir die oortreding van die Immigrasiewet aangekeer. “Hierdie operasie toon ons is ernstig oor die herstel van veiligheid in ons gemeenskappe,” 

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.