Central SA
Pellissier: Mike Bolhuis help oudsoldaat se moord ondersoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:37 Sat, 13 Sep 2025

Die polisie vra die publiek se hulp nadat ’n oudsoldaat Vrydag (12/9) vermoor is.
Albertus Opperman (75), ’n afgetrede regimentsersant-majoor (RSM) van 3 Valskermbataljon in Tempe, is met ’n steekwond in die bors in sy huis in Siembambastraat in Pellissier gevind, sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Sy liggaam is tussen 07:20 en 08:30 ontdek toe die huiswerker na bewering by die huis opgedaag en twee onbekende mans binne gekry het.”
Sers.maj. Albertus Opperman. Foto Facebook/ Spekkies Strydom
Sy het na die bure gehardloop en hulle het die polisie en ’n veiligheidsmaatskappy gekontak. Hy is op die toneel dood verklaar. Die motief vir die moord is nog onbekend.
Die verdagtes het gevlug en is steeds op vrye voet.
Mike Bolhuis, private ondersoeker, het aan OFM Nuus bevestig hy het ’n taakspan aangestel om Opperman se moord te ondersoek.
“Champ, soos Opperman alombekend was, se moord is ’n groot skok. Ons innige simpatie en medelye gaan uit na die familie en vriende en almal betrokke. Ons het onmiddellik toegetree. Hy was ’n deel van die Brotherhood.”
Bolhuis sê hulle is gewese valskermsoldate en Opperman was ’n absolute yster – ’n absolute voorbeeld.
‘Ons bid vir almal’
"Ons sukkel om die woorde te kies om dit te hanteer en te verwerk. Ons bid vir almal en vra dat die Here almal in hierdie tyd ryklik sal seën met absolute wysheid, insig, mag, krag, voorspoed, gesondheid en onderskeiding, dat ons almal barmhartig en genadig sal wees en vir ons rus, vrede, kalmte en antwoorde sal gee."
Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes op te spoor kan 082 526 2653 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.
OFM Nuus dg