On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Aftreeoord-aanranding: Beskuldigdes terug in Welkomse hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Thu, 18 Sep 2025

Aftreeoord-aanranding: Beskuldigdes terug in Welkomse hof | News Article
Anna Fourie en Lynette Brummer in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die ses beskuldigdes wat onder meer teregstaan weens die mishandeling van ’n vrou (81) by ’n aftreeoord in Welkom sal Donderdag (18/9) weer in die hof verskyn.

Die beskuldigdes is Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) . Hulle is almal op 18 Julie ná ’n drie dae lange borgtogaansoek vrygelaat. 

Hulle staan tereg op aanklagte wat voortspruit uit die beweerde aanranding by die Silver Village Assisted Living, ’n aftreeoord in Dagbreek, Welkom.

‘Is op 9 Julie in hegtenis geneem’

Fourie, Brummer, Majorobella en Ngcongwane is op 9 Julie in hegtenis geneem en het vir ’n formele borgtogaansoek in die hof verskyn. Mofolo en Moloi is ná verdere ondersoek op 14 Julie by die aftreeoord in hegtenis geneem.

Hulle word aangekla van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en die oortreding van art. 13 van die Wet op Ouer Persone. Hulle is almal versorgers en Brummer wat ’n senior pos beklee is ook ’n aandeelhouer.

Die Silver Village Assisted Living. Foto: Skermgreep/Google Maps

Brummer wat deur ao. Anja Tait, ondersoekbeampte, as die hoofbeskuldigde beskryf is, is op borgtog van R5 000 vrygelaat, Sy moet minstens 100 m van die aftreeoord af weg bly en haar paspoort binne ses uur ná haar vrylating inhandig.

Die ander vyf beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat en toegelaat om terug te keer werk toe, hoewel hulle nie toegelaat word om die slagoffer se kamer binne te gaan nie. Wanneer die slagoffer hulp nodig het, moet iemand anders aangewys word om haar te help.

‘Na bewering met kleefband teruggekeer’

Tait het getuig Brummer, wat na bewering bewus was sy word verfilm, het kwaad geword toe die bejaarde vrou geweier het om haar medikasie te neem. Brummer word daarvan beskuldig sy het die slagoffer gevloek, pille in haar mond gedruk, in haar gesig geblaas, haar neus geknyp en op haar gespoeg. 

Toe die vrou skreeu, het sy na bewering met kleefband teruggekeer en dit om die slagoffer se mond en kop gedraai.

Volgens Tait moet Brummer as die hoofverdagte beskou word, gegewe haar prominente rol in die video. Sy het gesê sy sou nie borgtog vir die ander vyf beskuldigdes teenstaan nie. 

Sy is bekommerd Brummer se vrylating kan die voortgesette ondersoek belemmer. Sommige personeellede was bang om verklarings af te lê weens haar invloed.

Jan Nel, die eienaar. Foto: Charne van der Merwe

Die verdediging het die staat daarvan beskuldig die proses word doelbewus vertraag en het aangevoer genoeg tyd het verloop sedert die ingehegtenisnemings vir die staat om bewyse in te samel en voor te berei vir die borgtogaansoek. 

Die verdediging het ook die wettigheid van die inhegtenisnemings betwis en beweer dit is sonder lasbriewe uitgevoer. Die geloofwaardigheid van Tait se beëdigde verklaring wat hoofsaaklik op videobeeldmateriaal staatgemaak het, word ook bevraagteken.

Die slagoffer se dogter het ’n kamera wat maklik sigbaar is, in haar ma se kamer aangebring. Die personeel was bewus daarvan. Die beeldmateriaal is aan die polisie oorhandig.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane, and Mapaseka Majorobella in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Benewens Brummer se optrede het Fourie na bewering die kamer met ’n foon binnegegaan terwyl die slagoffer steeds om hulp geroep het. Twee ander personeellede was teenwoordig, maar het na bewering niks gedoen nie.

 Brummer het die vrou glo met ’n kombers toegemaak en gesê niemand sou haar hoor nie. Sy het die ligte afgeskakel en die kamer saam met die ander verlaat.

Tait het opvolgbesoeke aan die fasiliteit afgelê om indiensnemingsrekords vir al die personeellede te bekom, maar die dokumentasie rakende Brummer het na bewering ontbreek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.