On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Toerismemaand: Ontdek skatte van Springbok

───   REFILWE BEKANE 11:00 Thu, 18 Sep 2025

Toerismemaand: Ontdek skatte van Springbok | News Article
Die dorp Springbok is ryk aan natuurlewe en plantspesies. Foto: Goegap-natuurreservaat

Suid-Afrika vier Toerismemaand en reisigers word genooi om die unieke sjarme van Namakwaland te ontdek.

Springbok is die grootste stad in hierdie streek en is sowat 565 km noord van Kaapstad. Hy het ’n fassinerende geskiedenis en is in 1862 as ’n kopermynsentrum gestig.

Dit was oorspronklik bekend as Springbokfontein – ’n vertaling van die Khoisan-naam Guchas, wat verwys na die wildsbokke wat daar aangetref is. Die dorp is vanaf 1922 deur ’n dorpsraad bestuur voordat dit in 1933 ’n munisipaliteit geword het.

Die dorp bied baie besienswaardighede wat die ryke geskiedenis en natuurlike prag van die omgewing weerspieël. Besoekers kan meer oor die geskiedenis uitvind van mynbou by die Bloumyn. Dit is Springbok se eerste kommersiële myn en daar is ook ’n wandelpad met ’n pragtige uitsig oor die dorp.

Springbok se eerste kommersiële myn,Bloumyn.Foto: Mindat 

Die myn is in 1685 in opdrag van goewerneur Simon van der Stel begin. Daar is ook die Kopersmeltoond, ’n nasionale monument noord van die dorp wat sedert 1871 nie meer gebruik word nie.

Geskiedenisliefhebbers sal ook die Monumentkoppie in die middel van die dorp waardeer. Hierdie omgewing, wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur Boeremagte van die Britte afgeneem is, gedenk die konflik van 1899 tot 1902. 

By ’n begraafplaas op die Kleinzee-pad kan die oorlogsgrafte en die grafte van mynbou-pioniers uit 1860 gesien word.

Die argitektoniese en kulturele erfenis is indrukwekkend. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, ook bekend as die Klipkerk, is ’n merkwaardige gebou wat in 1921 voltooi is. Reisigers kan die Namakwaland-museum in die ou sinagoge besoek wat in 1929 voltooi is.

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is ook bekend as die Klipkerk. Foto: NG Kerk Namakwaland

Natuurliefhebbers sal ook tuis voel in Springbok. Die Goegap-natuurreservaat is ’n ware skatkis van die streek, met meer as 600 inheemse blomspesies, 45 soogdierspesies en 94 voëlspesies. In die Hester Malan-veldblommetuin in die reservaat is daar talle Namakwalandse vetplante in ’n pragtige rotstuin.

Vir die avontuurlustiges wink die bekende Namakwa 4x4-roete by die skilderagtige Pella-sendingstasie. Die roete volg die Oranjerivier vir 642 km tot by die see wat ’n onvergeetlike reis deur verskeie landskappe bied.

Bron: Plekname van Suider-Afrika (Protea Boekhuis, 2020)

OFM News/Refilwe Bekane dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.