Central SA
Verdagte vas vir moord op Bloemfonteinse oudsoldaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:24 Thu, 18 Sep 2025

’n Verdagte verskyn binnekort in die hof nadat hy Woensdag (17/9) in hegtenis geneem is in verband met die moord op ’n Bloemfonteinse oudsoldaat.
Albertus Opperman (75) was ’n afgetrede regimentsersant-majoor (RSM) van 3 Valskermbataljon in Tempe. Hy is Vrydag (12/9) met ’n steekwond in die bors in sy huis in Pellissier aangetref.
“Danksy die inligtingstelsels tot ons beskikking is belangrike besonderhede verkry. Een van die twee verdagtes is reeds in hegtenis geneem en verdere ondersoeke is aan die gang,” sê Mike Bolhuis, private ondersoeker, aan OFM Nuus.
Hy sê sy kubermisdaadeenheid is besig om aktief digitale opsporing en ontleding van alle elektroniese kommunikasie te doen.
Albertus Opperman. Foto verskaf
Opperman se liggaam is tussen 07:20 en 08:30 gevind toe die huiswerker na bewering by die huis aangekom en twee onbekende mans binne gekry het, het sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, voorheen gesê.
“Sy het na die bure gevlug wat toe die polisie en ’n veiligheidsmaatskappy in kennis gestel het. Hy is op die toneel dood verklaar. Die motief vir die moord is onduidelik.”
Bolhuis spreek sy waardering teenoor die polisie uit vir hul uitstekende diens, professionele benadering en die betrokkenheid van die misdaadintelligensie-eenheid wat nou met die ondersoek help.
Moord ‘verwoestend’
Hy bedank almal wat in gebed verenig is en simpatie, deernis en ondersteuning betoon het. Hy bedank hulle ook namens homself, sy taakmag, die polisie en die familie.
“Champ, soos Opperman liefdevol bekend gestaan het, was hoogs gerespekteer. Sy moord is ’n verwoestende slag. Hy was deel van die broederskap.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg