Central SA
Aftreeoord-aanranding: Saak uitgestel vir video-ontleding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:42 Thu, 18 Sep 2025

Die hofsaak teen die ses mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 81-jarige vrou by ‘n versorgingsoord in Welkom aangerand het, is tot 7 November uitgestel sodat die hof die video kan ontleed wat ’n sleutelbewysstuk in die saak is.
Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met die beweerde mishandeling van Bettie Payne (81) vroeër vanjaar by die Silver Village Assisted Living, ‘n aftreeoord in Dagbreek, Welkom. Hulle is almal voorheen onder streng voorwaardes op borgtog vrygelaat.
Die ses, Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33), het Donderdag (18/9) in die Welkomse landdroshof verskyn.
Die aftreeoord is nou onder nuwe bestuur. Sedert 1 September is Daniel Botha en Eben Lee aan die stuur van sake, en die oord is herdoop na Danlee Care. Geen van die ses is meer in die oord se diens nie. Fourie het bedank, terwyl al die ander ná tugverhore geskors is.
Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto: Charne van der Merwe
Volgens Mariana Payne, Bettie se dogter, het die veranderings ‘n positiewe impak op haar ma se welstand gehad. “Sedert die nuwe bestuur oorgeneem het, het dinge drasties verander – op ‘n goeie manier. Die mense daar sorg nou baie goed vir hulle,” het sy gesê.
Fourie, Brummer, Majorobella en Ngcongwane is op 9 Julie in hegtenis geneem en het vir ‘n formele borgtogaansoek in die hof verskyn. Mofolo en Moloi is ná verdere ondersoek op 14 Julie by die aftreeoord in hegtenis geneem.
Hulle word aangekla van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en die oortreding van art. 13 van die Wet op Ouer Persone. Hulle was almal versorgers en Brummer, wat ‘n senior pos beklee het, was ook ‘n aandeelhouer.
Sedert 1 September is Daniel Botha en Eben Lee aan die stuur van sake, en die oord is herdoop na Danlee Care. Foto: Charne van der Merwe
Brummer, deur ao. Anja Tait, ondersoekbeampte, as die hoofbeskuldigde beskryf, is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Sy moet minstens 100 m van die aftreeoord af weg bly en haar paspoort binne ses uur ná haar vrylating inhandig.
Die ander vyf beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Tait het getuig Brummer, wat na bewering bewus was sy word verfilm, het kwaad geword toe die bejaarde vrou geweier het om haar medikasie te neem. Brummer word daarvan beskuldig dat sy Payne gevloek, pille in haar mond gedruk, in haar gesig geblaas, haar neus geknyp en op haar gespoeg het.
Kleefband om mond, kop gedraai
Toe Payne skreeu, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om haar mond en kop gedraai.
Volgens Tait moet Brummer as die hoofverdagte beskou word, gegewe haar prominente rol in die video. Sy het gesê sy sou nie borgtog vir die ander vyf beskuldigdes teenstaan nie.
Die verdediging het die staat beskuldig die proses word doelbewus vertraag en het aangevoer genoeg tyd het verloop sedert die ingehegtenisnemings om bewyse in te samel en voor te berei vir die borgtogaansoek.
Die verdediging het ook die wettigheid van die inhegtenisnemings betwis en beweer dit is sonder lasbriewe uitgevoer. Die geloofwaardigheid van Tait se beëdigde verklaring, wat hoofsaaklik op videobeeldmateriaal staatgemaak het, word ook bevraagteken.
Die nuwe logo van die aftreeoord.
Mariana Payne, Bettie se dogter, het ‘n kamera wat maklik sigbaar is, in haar ma se kamer aangebring. Die personeel was bewus daarvan. Die beeldmateriaal is aan die polisie oorhandig.
Benewens Brummer se optrede het Fourie na bewering die kamer met ‘n foon binnegegaan terwyl die slagoffer steeds om hulp geroep het. Twee ander personeellede was teenwoordig, maar het na bewering niks gedoen nie.
Brummer het die vrou glo met ‘n kombers toegemaak en gesê niemand sou haar hoor nie. Sy het die ligte afgeskakel en die kamer saam met die ander verlaat.
Tait het opvolgbesoeke aan die fasiliteit afgelê om indiensnemingsrekords vir al die personeellede te bekom, maar die dokumentasie rakende Brummer het na bewering ontbreek.