Central SA
Welkom: Voormalige polisiebeampte ontken bewerings in verklaring─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Fri, 19 Sep 2025

’n Voormalige Vrystaatse polisiekaptein en sy vrou se saak kon nie voortgaan omdat die tolk siek is. Hul saak sal op 29 September en 1 Oktober vir kruisondervraging hervat word.
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, het Woensdag (17/9) weer in die Welkomse landdroshof verskyn. Hulle word aangekla van intimidasie, crimen injuria en poging tot moord.
Die aanklagte teen die egpaar word verbind met ’n jare lange vete met die broers Manny en José Jardim.
Die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle agter graffiti is wat jare lank brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het. Dit was glo gemik teen die Jardims.
‘Aangekla van poging tot moord’
Hulle word ook aangekla van poging tot moord nadat een van die broers se huis na bewering met ’n spykerbom aangeval is.
Adv. Allen Simpson het Woensdag in kruisondervraging vir Fourie ’n verklaring gewys wat hy na bewering in 2019 afgelê het.
Simpson het hom gevra watter telefoonnommer hy gedurende die tydperk van die misdade gebruik het. Die nommer wat hy verskaf het, was anders as die nommer op die verklaring.
Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf
Simpson het dit aan hom gestel dat hy ’n ander nommer op die verklaring gegee het, een vanwaar dreigboodskappe gestuur is. Volgens Simpson het Fourie die verklaring onderteken.
Die hof het gehoor dat die toestel waarna in die verklaring verwys word, vir verskeie SIM-kaarte gebruik is en verbind is met boodskappe wat aan slagoffers gestuur is.
Fourie sê die handtekening op die dokument is nie syne nie. Hy het ook gesê die toestel ter sprake was die huisfoon wat slegs by sy huis gebruik is, al is dit met die boodskappe verbind.
‘Fourie dreig glo joernalis’
’n Joernalis het met toestemming van die hof foto’s van Fourie en sy vrou geneem. Fourie het die joernalis na bewering gedreig en gesê sy kan hom maar afneem, hy het ook foto’s van haar kind op sy foon.
Simpson het die landdros met die hervatting van die verrigtinge ingelig oor die voorval. Landdros Marionette Kirsten het aan Fourie gesê sy opmerkings is ’n direkte dreigement en ’n poging om die joernalis te intimideer.
Fourie het egter ontken hy het die opmerkings gemaak.
’n Voorbeeld van die graffiti . Foto verskaf
Die saak duur al ses jaar en is in die verlede vertraag weens Fourie se gereelde verandering van regsverteenwoordigers.
Hy het ook tydens ’n vorige verskyning ’n doktersbrief ingedien omdat Anna brongitis gehad het. Dit het daartoe gelei dat die saak tot vandeesmaand uitgestel is.
Vroeër in Augustus het Fourie verdere vertragings veroorsaak toe hy aangevoer het hy verstaan nie Engels nie en dat hy die dienste van ’n tolk benodig. Dit was nadat hy met hul vorige verskyning alle vrae sonder probleme in Engels beantwoord het.
’n Boodskap op ’n selfoon wat deel vorm van die ondersoek. Foto verskaf
Die hof het Fourie vroeër gelas om ’n foto van hul oudste kind in te handig nadat Simpson opgemerk het die kind kan moontlik ’n sleutelrol in die beweerde misdade speel.
Hy het die hof ook daaraan herinner Fourie het in 2021 ’n DNS-toets geweier om te bevestig of die kind biologies syne is. Sedertdien het hy gesê hy het geen beswaar daarteen nie.
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, by die hof. Foto: Charne van der Merwe
Sam Nkuna, Fourie se regsverteenwoordiger, het ook voorheen aangevoer daar is geen bewyse teen Anna nie. Die staat het die aansoek teengestaan en die hof het beslis sy moet saam met haar man teregstaan.