Central SA
Louis Siemens-moord: Baasbrein lewenslank tronk toe─── ZENANDE MPAME 12:37 Fri, 19 Sep 2025

Die baasbrein agter die moord op die Bloemfonteinse sakeman Louis Siemens in 2018 is deur die hooggeregshof in Bloemfontein Donderdag (18/9) tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Stanley Bakili (44) se vonnis bring ’n einde aan ’n uitgerekte ondersoek en hofsaak ná die hoëprofielmoord. Siemens, besturende direkteur van die CityMed Privaat Hospitaal, is op 10 Mei 2018 in die kelderparkeerarea van Preller Plein-winkelsentrum in Bayswater, Bloemfontein, doodgeskiet.
Kort ná die voorval is Bakili naby die toneel in hegtenis geneem. In die verhoor het dit aan die lig gekom dat hy meer as R5 miljoen van Siemens afgepers het in ruil vir ’n hospitaallisensie – waarvan hy 90% op die dobbeltafels verloor het.
In die daaropvolgende ondersoek, gelei deur lt.kol. Tieho Flyman van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, is nog agt mense betrek.
Louis Siemens.
Onder diegene wat in hegtenis geneem is, was drie polisielede, ’n weermaglid en ’n voormalige prokureur, wat volgens Vrystaatse polisiewoordvoerder Mahlomola Kareli die omvang van die beweerde kriminele sameswering beklemtoon het.
“ ’n Sleuteloomblik tydens die verhoor was toe Xolisile Mbebetho, die sluipmoordenaar, skuld erken het en ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is tot 23 jaar tronkstraf gevonnis en het as staatsgetuie getuig.”
Ten tyde van die hofverrigtinge is een van die polisielede in aanhouding dood. Ses beskuldigdes is vrygespreek. Bakili is uiteindelik op verskeie aanklagte skuldig bevind.
Hy is as volg gestraf:
- Moord: Lewenslange gevangenisstraf.
- Afpersing: 15 jaar.
- Geldwassery: 20 jaar.
- Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad: 15 jaar.
- Besit van ’n onwettige vuurwapen: vyf jaar.
- Onwettige besit van ammunisie: vyf jaar.
Die vonnisse sal nie gelyklopend uitgedien word nie. Bakili sal die volle termyn uitdien.
In Maart is die Bloemfonteinse landdros Leavit Mkansi skuldig bevind aan regsverydeling nadat geheime kommunikasie tussen hom en Bakili, wat toe op ’n ander aanklag van bedrog tereggestaan het, aan die lig gekom het. Mkansi is in die Bloemfonteinse streekhof ’n boete van R120 000 of vyf jaar tronkstraf opgeê, en Bakili ’n boete van R60 000 of 30 maande tronkstraf.
Bewyse in die hof het getoon dat die twee meer as 192 telefoonoproepe met mekaar gevoer het en gereeld ontmoet het – onder meer by die Windmill Casino in Bloemfontein, waar Bakili ’n balans van meer as R9 miljoen gehad het.
Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiehoof, het die ondersoek- en vervolgingspan geloof vir hul werk om die skuldigbevinding te verseker.
OFM Nuus/Refilwe Bekane en Zenande Mpame cvs