On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bestuurder aangekla van ongeluk wat drie Bloemfontein-kinders eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:16 Mon, 22 Sep 2025

Bestuurder aangekla van ongeluk wat drie Bloemfontein-kinders eis | News Article
Die drie leerlinge wat oorlede is. Foto: Facebook

’n Jong man verskyn na verwagting op 3 Desember op ’n aanklag van strafbare manslag in die hof in verband met die dood van drie kinders byna agt maande gelede wat in ’n botsing buite Bloemfontein gesterf het toe hulle op pad skool toe was.

Ná verskeie vertragings en die dossier wat herhaaldelik teruggestuur is vir verdere bewyse – insluitend nuwe beeldmateriaal van die toneel wat aan die lig gekom het asook ’n J88-verslag – het die direkteur van openbare vervolging besluit om met die saak voort te gaan.

Die boeties Ayden (8) en Ryan (6) Smit asook hul niggie Leané van Papendorp (8) het op 23 Januarie gesterf nadat die bestuurder van ’n Toyota Hilux en ’n sleepwa vol swaar metaal na bewering die rooi verkeerslig verontagsaam het op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar.

Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan , verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Ryan en Leané is op slag dood en Ayden is met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas. Sy hart het twee keer gaan staan voordat hy dood verklaar is.

Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Spark, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan.

Tennique Joubert (6) was vir byna twee weke ná die ongeluk in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Weens die erns van die impak moes Tennique se milt verwyder word. Sy is ná 19 dae se behandeling ontslaan.

Die kinders was almal op pad na die Primêre Skool Dr. C.F. Visser.

Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe

Die pa van die bestuurder het Maandag (22/9) gesê sy kind, wat oorsee is, het nie gevlug nie. Van meet af was die ooreenkoms “as die saak voortgaan, sou my kind verantwoordelikheid aanvaar”, het die pa gesê.

OFM Nuus het voorheen berig die bestuurder is in die buiteland. “Voordat my seun die land verlaat het, het ons die polisie genader en gevra of hy mag, aangesien hy nog nie aangekla was nie.”

Martin Smit, Ayden en Ryan se pa, sê die nuus ontlok ’n wipplank van emosies. “Daar is ’n gevoel van dankbaarheid dat geregtigheid uiteindelik seëvier, maar terselfdertyd is ons oorweldig deur die gewig van ons verlies.

“Ons weet daar is nog ’n lang pad voor, maar ons is verlig dat dinge uiteindelik in die regte rigting beweeg.”

Klein Tennique terug skool toe ná botsing buite Bloemfontein | News Article

Tennique is ná 19 dae in die hospitaal ontslaan. Foto: Cornelius Berry

Hy erken die hartseer eis ’n swaar geestelike en liggaamlike tol. “Ek kan nie meer slaap nie. Ek verdrink in mediese en apteekrekeninge, net om aan te hou. My mediese fonds is uitgeput – ek het sielkundiges, psigiaters besoek, ek het alles probeer.”

Die saak het van meet af wye media- en openbare aandag getrek, wat groot druk op die ondersoekspan geplaas het om antwoorde te verskaf, sê kapt. Lorraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Ten spyte van hierdie druk het die aangewese ondersoeker ’n deeglike en noukeurige ondersoek uitgevoer en ywerig met die beskikbare hulpbronne gewerk.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.