On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kapenaar soek ná twee jaar steeds na broer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:44 Mon, 22 Sep 2025

Noord-Kapenaar soek ná twee jaar steeds na broer | News Article
Richard Hammond is al meer as twee jaar lank vermis. Foto verskaf

’n Noord-Kaapse vrou soek desperaat na antwoorde oor haar broer, wat reeds langer as twee jaar gelede as vermis aangemeld is.

Claudia Kotze (44), van Olifantshoek, sê haar broer, Richard Hammond (46), het hul ma se huis op Mooinooi in Junie 2023 verlaat om werk in Rustenburg te soek – en is sedertdien nie weer gesien nie. Sy het egter eers ’n jaar later van haar broer se verdwyning uitgevind, aangesien haar ma haar destyds nie in kennis gestel het nie. 

“Sedert ek uitgevind het, soek ek eindeloos na hom,” vertel sy aan OFM Nuus. Volgens Claudia is ’n liggaam verlede jaar gevind en na ’n lykshuis geneem. 

Destyds is geglo dat dit haar broer kon gewees het. “My ma het aanvanklik die vermiste persoon-saak teruggetrek terwyl sy vir DNS-uitslae gewag het. Die DNS-uitslae het wys dat die liggaam nie Richard s’n was nie.”

Claudia sê sy het sedertdien uitdagings ondervind om die vermiste persoon-saak te heropen. “Met die hulp van die Pink Ladies is ’n pamflet geskep om bewustheid oor my broer te verhoog. 

“Intussen was daar berigte van mense wat hom in Mosselbaai gesien het, maar ek het nog geen verdere inligting nie.” Claudia vermoed haar broer sukkel dalk met depressie. 

‘Hy weet waar ek woon en weet ek sal hom help’

“Tydens Covid-19 is my pa aan ’n hartaanval oorlede. Hy en my pa het op daardie stadium nie ’n goeie verhouding gehad nie – en hulle was albei te koppig om vrede te maak. 

“Ek dink sy dood was baie moeilik vir hom.”

Volgens Claudia weet sy ook nie hoekom hy nie kontak met haar maak of net by haar huis opdaag nie. “Hy weet waar ek woon en weet ek sal hom help.”

‘Ek moet weet of hy lewend of dood is’

Sy vertel dat sy steeds haar pa se as by haar huis, ongeopend het, in die hoop dat as haar broer terugkeer, hulle dit saam kan oopmaak – iets wat sy glo haar ’n mate van afsluiting kan bring. Tans het sy geen idee waar haar broer is nie. 

“Hy kan enige plek wees – selfs in Bloemfontein, want hy het ’n rukkie daar gewoon. Ek wil net antwoorde hê. Ek moet weet of hy lewend of dood is.”

Mooinooi se polisie doen ook ’n beroep op die gemeenskap om hulp om Richard op te spoor. 

Lank en skraal

Hy is 1,85 m lank en skraal gebou met blou oë, bruin kroeserige hare, en ’n kort wit snor en baard. Ten tyde van sy verdwyning het hy ’n vlootblou denim met ’n wit hemp aan gehad.

Enigiemand met inligting kan die Mooinooi-speurders serss. Brenda Metseleng by 065 515 7052 of Aaron Khunou by 076 565 8576, óf Stop Misdaad by 08600 10111 nader.

Anonieme wenke kan ook via die MySAPS-toepassing ingedien word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.