On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Duisende steun petisie om ‘Kill the Boer’ op NWU-kampus te verbied

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:37 Tue, 23 Sep 2025

Duisende steun petisie om ‘Kill the Boer’ op NWU-kampus te verbied | News Article
Duisende steun die petisie om ‘Kill the Boer’ op NWU-kampus te verbied. Foto: AfriForum

Nog ’n stem is bygevoeg by ’n petisie waarin die Noordwes-Universiteit gevra word om beslissende stappe te doen na aanleiding van die sing van die omstrede Kill the Boer-dreunsang op een van sy kampusse.

Die VF Plus sê sy steun toe in ’n oproep dat die dreunsang verbied word, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor onderwys. Dit is na bewering gesing op ’n EFF-byeenkoms op die Potchefstroomkampus

AfriForum Jeug en studente op die Potchefstroomkampus het Donderdag 11 September ’n protesoptrede gehou. Hulle het hul frustrasie uitgespreek oor die universiteit se stilswye en vermeende huiwering om die dreunsang op sy persele eksplisiet en in die openbaar te veroordeel.

“Die petisie is aan die universiteitsbestuur oorhandig met meer as 6 000 handtekeninge ter ondersteuning van ’n verbod op die (sing) van hierdie slagspreuk op NWU-kampusse,” sê Yvonne Gerber, ontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug.

Die petisie is gerig aan dr. Corrie Rheeder, direkteur van studentelewe op die NWU Potchefstroom-kampus, na ’n voorval waar die dreunsang na bewering op 5 Junie voor ’n koshuis gesing is.

Pleidooi dat ‘Kill the Boer’ op NWU-kampusse verbied word | News Article

NWU-studente by die banier. Foto verskaf

Om hul steun verder te toon, het lede van AfriForum Jeug en NWU-studente ’n banier onderteken met die boodskap: “Veroordeel ‘Kill the Boer’.”

Al was die EFF se optog blykbaar kleiner as verwag, beklemtoon Boshoff die voorval bly kommerwekkend. “Terwyl hulle hierdie liedjie luidkeels sing, bestempel hulle AfriForum gelyktydig as ’n ‘regse terroristeorganisasie’. Die ironie is treffend – nóg AfriForum nóg enige Afrikanerorganisasie doen ’n beroep op skade gedurende hierdie gespanne (tyd).”

Hy vergelyk die universiteit se huidige reaksie op die openbare besware met dié op ’n “Nazi-saluut”-voorval in 2014, wat merkbaar verskil. Destyds het Media24-koerante, onder leiding van Adriaan Basson, toe Beeld se redakteur, die reaksie gelei, sê Boshoff.

Die studente op die kampus by die banier. Foto verskaf

“Die direkteur-generaal van hoër onderwys, Gwebs Qonde, het daarop aangedring dat die Noordwes-Universiteit (optree), eerder as om verduidelikings te bied. Trouens, dit het later aan die lig gekom dat die saluut – wat geen verband met Nasionaal-Sosialisme gehad het nie – reeds gestaak is voordat daaroor berig is.”

Volgens Boshoff is opgetree nadat prof. Herman van Schalkwyk, destydse kampusrektor, die sensitiewe aard van die gebaar erken het.

‘NWU dra swaar verantwoordelikheid’

“As (die) geskiedenis in ag geneem moet word, dra die NWU ’n swaar verantwoordelikheid om nou ferm standpunt in te neem teen gister se EFF-optog. Selfs die departement van hoër onderwys kan nou nie agter die beginsel van akademiese vryheid wegkruip nie, gegewe hoe min dit in 2014 saak gemaak het.”

Boshoff beweer in die huidige politieke klimaat is dit noodsaaklik vir ’n universiteit om sulke optrede te veroordeel – selfs al klassifiseer die Konstitusionele Hof die dreunsang nie amptelik as haatspraak nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.