On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes gesoek ná Noordwester veilig gevind word

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:45 Thu, 25 Sep 2025

Verdagtes gesoek ná Noordwester veilig gevind word | News Article
Petrus Jacobus (Bakkie) Buys. Foto: SSS

Die polisie in Noordwes soek na die ontvoerders van ’n man, wat ongedeerd gevind is ’n dag nadat hy ontvoer is.

Petrus Jacobus (Bakkie) Buys is Dinsdag (23/9) kort ná 19:15 uit sy huis op Mooinooi ontvoer, sê Chris Coetser van Specialised Security Services (SSS), gelei deur Mike Bolhuis. “Petrus is in Randburg, Gauteng, gevind nadat hy langs die pad afgelaai is deur die verdagtes, wat in twee wit voertuie weggejaag het.”

Dit is nog nie bekend watter soort voertuie dit was nie.

Buys was erg getraumatiseer, sê Coetser. “Hy is onmiddellik hospitaal toe geneem en op ’n drup geplaas. Hy het langer as 24 uur niks geëet nie, en sy bloeddruk was baie laag.”

Vrees om vergiftig te word

Buys is glo tydens sy ontvoering kos en water aangebied, maar hy was te bang om enigiets te eet, uit vrees om vergiftig of bedwelm te word.

Voorheen is berig die verdagtes het toegang tot Buys se huis verkry deur die heining te sny.

’n Saak van ontvoering is by die Mooinooi-polisiekantoor aanhangig gemaak, maar dit is nog onbekend waarom sy ontvoerders Buys laat gaan het óf waarom hy ontvoer is. Talle leidrade word opgevolg, sê Coetser.

Enigiemand wat verdagte optrede of voertuie in die Mooinooi-gebied gedurende hierdie tydperk opgemerk het – of wat enige inligting oor die verdagtes het – word versoek om Coetser by 082 457 4007 te kontak.

Geen wagtydperk

Die Noordwes-polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk om ’n persoon as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:

• Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.

• Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy of sy aan gehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.

• Vul ’n SAPD 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.

• Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word, direk aan hom of haar.

• As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste se verslag uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.