Central SA
Boedelbedrog: Bloemfonteinse prokureur se verhoor begin Dinsdag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Tue, 30 Sep 2025

Die Bloemfonteinse prokureur, wat van boedelbedrog beskuldig word, se verhoor sal na verwagting Dinsdag (30/9) begin.
Elmari Vosloo (47) word daarvan beskuldig dat sy ’n boedel ter waarde van ongeveer R6 miljoen in kontant tussen Januarie 2015 en Julie 2017 wanbestuur het. Sy het vlugtig op 31 Julie in die plaaslike landdroshof verskyn, waar die saak vir verhoor uitgestel is.
“Die verdediging is nou gereed om tereg te staan nadat die inhoud van die dossier hersien is,” sê adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger.
Elmari se verhoor begin. Foto: Charné van der Merwe
Hy sê die R6 miljoen, wat uit die verkoop van eiendomme (plase) by Lindley gekom het, is in Vosloo se praktyktrustrekening betaal. “Sy het toe die geld in aangewese beleggingsrekeninge belê, soos vereis, voordat dit aan die boedel versprei is.”
Volgens Simpson ontken Vosloo enige oortreding. Sy hou vol dat sy geen geld verduister het nie en dring daarop aan dat die geld in die korrekte trust- en beleggingsrekeninge bly.
“Die Raad vir Regspraktisyns het haar praktyk in 2017 oorgeneem en beheer oor die trustrekening en alle gepaardgaande beleggings geneem,” sê Simpson.
Praktiseer sonder geldige sertifikaat
Die klaer beweer egter dat die geld in Vosloo se persoonlike bankrekening gedeponeer is, pleks van in die vereiste trustrekening. Hierdie beweerde wangedrag het na bewering tot ’n finansiële verlies van ongeveer R3,4 miljoen vir die klaer gelei.
’n Dagvaarding is op 11 Junie aan Vosloo beteken.
Verdere ondersoeke het ook aan die lig gebring dat Vosloo glo sonder ’n geldige getrouheidsfondssertifikaat gepraktiseer het.